Photo: Justin Leniger @jtleniger

Solidariteit vra vir 'n moratorium op Telkom afleggings

Posted in News by Admin on 16 January, 2020 at 12:28 p.m.

Solidariteit het vandag ʼn skrywe aan Telkom gerig waarin versoek word dat ʼn moratorium op gedwonge afleggings geplaas word. Dit volg nadat die maatskappy vakbonde in kennis gestel het dat tot 3 000 werkers afgelê kan word.
Afleggings word genoodsaak wanneer die volhoubaarheid van ʼn maatskappy in gedrang is, maar hierdie afleggingsronde bedreig juis die finansiële volhoubaarheid van die maatskappy.

“ʼn Maatskappy kan nie meer as R100 miljoen aan sy uitvoerende span betaal en dan van 3 000 van sy werksmag ontslae raak nie. Dit is roekeloos en, gedagtig aan die arbeidsmark wat afgelegde werkers in die gesig staar, genadeloos. Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, alleen het in die vorige finansiële jaar ʼn volle R23 miljoen huis toe geneem,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit vra dat ʼn aggressiewe heropleidingsprogram tydens die moratorium by Telkom geïmplementeer word sodat werkers met nuwe vaardighede toegerus word om te help dat Telkom in die vinnig veranderde inligtingsomgewing verder kan groei. Telkom-werkers moet saam met die maatskappy van vastelyn- na mobiele dienste beweeg.

Hermann voer aan dat die feit dat Telkom nou tot 3 000 mense wil aflê, ʼn bevestiging is dat die maatskappy klaaglik misluk het in die heropleiding van sy mense sodat Telkom nog vinniger in sy groeiareas soos mobiele dienste kan ontwikkel.

“Indien ʼn maatskappy nie daarin kan slaag om sy werksmag vir nuwe uitdagings op te lei nie, moet daar nie van die werkers ontslae geraak word nie, maar van die topbestuur,” sê Hermann.

Telkom se werksmag het reeds in die vorige finansiële jaar met 2 176 of 12,5% gekrimp. Dit was nie weens gedwonge afleggings nie, maar grootliks weens vrywillige skeidingspakkette. Hermann sê grootskaalse personeelvermindering by ’n maatskappy kan maklik tot swak dienslewering lei. “’n Verdere 3 000 poste wat gesny word, is te veel. Indien die personeel wel nog verminder moet word, kan dit deur vrywillige prosesse en natuurlike personeelomset gedoen word,” voeg Hermann by.

Die inligtingstegnologie-omgewing is hoogs mededingend en goeie vaardighede is skaars. Die onsekerheid wat Telkom nou skep, gaan bloot tot gevolg hê dat die beste werkers eerste gaan loop. Dit kan die maatskappy in ’n afwaartse spiraal plaas.

“Telkom moet eerder ’n boodskap uitstuur dat ’n pad saam met lojale werknemers gestap word. ’n Moratorium op gedwonge afleggings sal die sekerheid gee wat Telkom-werkers nou nodig het,” sluit Hermann af.

Redakteur: Anchen Coetzee / Africa InTouch News
Ingedien deur: Solidariteit Media

Government press release regarding national lockdown

Issued by the Department of Government Communication and Information System.
Admin

ANC wys ware kleure, skryf Solidariteit

Die regering sien "dit maar net as ʼn gulde geleentheid om sy aanstootlike rasse-ideologie af te dwing."
Admin

Die Solidariteit Beweging kondig planne aan om Covid-19 te bestry

ʼn Krisiskomitee sal op ʼn daaglikse basis vergader om aksieplanne te implementeer.
Admin

Murder of decorated police officer a heavy loss to war against rhino poaching

Colonel Bruwer had a stellar reputation for cracking complex cases.
Admin