Die lewe begin iewers tussen asseblief en dankie

Posted in Opinion by Anchen Coetzee on 7 October, 2018 at 4:24 p.m.

Daar is fout. Groot fout. Wêreldwyd.

Ek kyk na sommige van vandag se kinders en tieners en ek kry skaam, diep skaam, dat my generasie en die generasie net na my, verantwoordelik was vir hierdie mense se opvoeding.

Onderrig in basiese goeie maniere en respek vir hul omgewing, was duidelik nie deel van ‘n groot gros van vandag se kinders, tieners en party jong volwassenes se grootword nie – tog word hierdie mense die lewe ingestuur en daar word verwag dat hulle die leiers van môre gaan word.

Wanneer daar geen basiese begrip is vir die twee eenvoudigste woorde nie - asseblief en dankie - is jy klaar in jou peetjie in. Hierdie twee woorde vorm myns insiens die hoekstene waarop alle ander goeie maniere gebou word. Dit is nie net woorde om te gebruik omdat die samelewing dit verwag nie, dit is soveel meer. Dankie en asseblief leer jou die basiese beginsels van kommunikasie, maar dit smaak my die mense wat dit nie gebruik nie, dink dit is ‘n vorm swakheid. Dankie en asseblief maak ‘n groot gedeelte uit van emosionele volwassenheid.

Dan is daar die eenvoudige konsep van groet. Binne my is daar geen respek vir ‘n mens wat iemand nie ordentlik kan groet nie,  en wat ook nie die gesprek kan afsluit met ‘n groet nie. Is dit deesdae die mode om die foon in iemand se oor dood te druk? Of om ‘n gesprek te begin sonder ‘n groet? Wanneer het hierdie neiging die norm geword?

Waar het sommige van my generasie, en die generasie na my, so verkeerd getrap om so ‘n spul ongemanierde boelies groot te maak?

Ek lys hier ‘n paar basiese maniere wat elke kind saam met moedersmelk moet inkry.  Indien jy een van die is wat nou al in jou 20’s is en nog nie hierdie maniere geleer het nie, begin vandag asseblief, want slegs ‘n mens sonder selfrespek maak homself skuldig daaraan om hierdie dinge agterweë te laat.

Basiese maniere:
Gebruik die woorde asseblief en dankie
Leer om hallo en totsiens te sê
Maak oogkontak wanneer daar met jou gepraat word
Antwoord wanneer jy aangespreek word
Haal jou hande uit jou sakke en trek jou skouers regop
Maak skoon waar jy gemors het.

Tafelmaniere:
Kou met jou mond toe
Vra om verskoon te word (jy staan nie net op nie!)

Namens my generasie, waarvan meeste se kinders al sterk op pad na hul 30’s is, vra ek verskoning indien jou ouers jou nie maniere geleer het nie. Leer dit ten minste vir jou kinders, sodat die volgende generasie nie die vinger na julle toe wys soos ek dit tans na my generasie wys nie!

Submit your opinion piece HERE or email editor@africaintouch.co.za  
Afrikaans and English contributions welcome.
Content of opinion pieces does not necessarily reflect the opinion of Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch. Responsibility for the information and views expressed lies entirely with the author(s).

Eenheid maak mag - geen getal kan daaraan gekoppel word nie

Since you didn't ask... - Editor's Notes
Anchen Coetzee

Dagga is now legal in the privacy of your home

What is your opinion about this?
Anchen Coetzee

It is a given fact that sex sells

I found that today’s tyre adverts is nothing compared to those of 97 years ago.
Anchen Coetzee