Eenheid maak mag - geen getal kan daaraan gekoppel word nie

Posted in Opinion by Anchen Coetzee on 30 October, 2017 at 6:15 p.m.

Sien onder vir beeldmateriaal (9 kort video's) van vandag se optog in Barberton

Hierdie sou aanvanklik 'n redaksie wees, maar hoe meer ek geskryf het, hoe minder kon ek dit regkry om blote feite weer te gee, want emosie lê vandag dik en swaar in my hart.

Vandag het Barbertonners, net soos ander Suid-Afrikaners van regoor die land, hul stemme dikgemaak teen die greep van geweld waarin ons land reeds te lank vasgevang is. Soos versoek op sosiale media, het heelwat mense wat deelgeneem het aan vandag se optog, swart gedra om hul solidariteit met die boere te toon. Die optog wat hier aan die voet van die Makhonjwa-berge plaasgevind het, was nie-polities en nie-rassisties. Alhoewel in die minderheid, was daar heelwat swartmense wat ook hul stemme dik gemaak het en hand aan hand saam met die hoofsaaklik blanke-groep, die strate behoorlik binnegevaar het. Mense het vir verskillende redes opgedaag – sommiges om hul misnoeë uit te spreek met die regering, kinder- en -vroue-mishandeling en korrupsie in die algemeen.

Mens moet in ag neem dat dit 'n Maandag is - die begin van 'n nuwe week, en dat baie mense nie tyd kon afkry van hul werk nie, maar steeds het die teleurstelling pynlik aan my nerwe geknaag toe ek die handjievol siele uit die gemeenskap sien wat in die parkeerarea regoor die munisipaliteit stelling ingeneem het. 'n Uur was al wat gevra is. Om 'n etensuur te skuif van 13:00 na 11:00 kon sekerlik nie so moeilik wees nie? Spekuleer wil ek nie graag oor hoekom nie meer mense hul gewig kom gooi het agter die wat wel opgedaag het nie, maar ek kan aan 'n paar moontlikhede dink. Die reëls binne die meer korporatiewe besighede kon sekerlik een van die redes wees – alhoewel daar nie baie sulke ondernemings in Barberton is nie. Ek wil graag glo dat werknemers wat wel aan hierdie reëls onderhewig is, in hul harte saamgestap het – ek het immers hier en daar 'n swart hemp, wat nie deel van die optog was nie, binne ‘n besigheid gesien. Indien jy 'n werkgewer is wat vir geen ander rede, afgesien van die blote feit dat jy nie 'n standpunt wou inneem nie, jou werknemers toestemming geweier het om deel te neem, het ek heelwat vir jou te sê, maar ek sal dit liefs nie hier neerpen nie.

Wat my ook dwars in die krop steek is dat die grootbekke, wat heeldag en aldag op Facebook- groepe, soos Barbertonners Mpumalanga, sit en vuurspoeg oor die een of ander onreg wat plaasvind, in hul afwesigheid geskitter het. Weereens, daar is baie met geldige verskonings, maar as jy een van die is wat gesit en koffie drink het in die gerief van jou huis terwyl jy alewig Facebook-inskrywings maak in die trant van “ons moet saamstaan” -  skaam jou vir jou afwesigheid!

Suid-Afrikaners is gatvol. Hulle is deurdik vir die wetteloosheid wat die norm geword het in ons land. Net verlede week het twee Barbertonners – een wit en een swart – sy aan sy hul lewens verloor op ‘n manier wat as niks anders as sinneloos beskryf kan word nie. Tot dusver is niemand nog in verband met hul dood in hegtenis geneem nie. Ek gaan nie eens begin praat oor die slagting van boere nie – ek glo daar is reeds alles daaroor gesê op sosiale media, maar korrupsie, mishandeling, moord en doodslag vreet soos 'n kanker aan elke stukkie van ons menswees, of jy dit nou wil hoor of nie.

Vrees sit boepens en blinkbek en vreet saam met ons aan tafel – ja, dit sit wydsbeen om die kospotte van Egipte en die reste wat oorbly, wat van tyd tot tyd na ons kant gegooi word, was vir lank net-net genoeg om ons nie van die honger te laat omkom nie, maar iewers op 'n kol het die mense van hierdie land ook gatvol geraak vir die flenters.

Die meerderheid glo geloof is die antwoord. Ander glo om die huidige regering van sy troon af te stamp gaan alles regruk. Nog ander, soos ekself, glo dat die mense van hierdie land verdeeld is juis as gevolg van geloof en politiek. Ek glo dat mense die wêreld deur dieselfde is. Ek glo aan die “universal mind”-prinsiep en dat mense – ongeag taal, ras of geloof en ongeag van hoe groot hy homself ag in die klein visbak waarin hy rondswem, meer in gemeen het as wat hulle soms wil erken.

Ons is een met alles in die heelal en daar is niks waarvan ons nie deel is nie. Woorde, gedagtes en energie vloei deur ons – sonder einde. Die dag wanneer jy jou kop vir oulaas in hierdie leeftyd neerlê gaan alle vakkies waarin jy jouself gedruk het, waarin die samelewing jou gedruk het, wegval. Jy gaan wees wat jy was van voor jou geboorteuur af - energie.

En dit was waaroor vandag gegaan het – siele wat bymekaar gekom het uit liefde vir hul land en medemens en die jonger geslag wat lank na ons die leisels sal moet vashou. Die Stem is gesing, Nkosi Sikelel' iAfrika is gesing, baie het gebid, party het nie. In eenvoud en nietigheid het almal hul ego's afgesmyt soos die sinnelose juk wat dit is, om luidkeels en hard ten hemele te skree dat hulle nie meer bereid is om gespeel te word soos 'n lendelam trekklavier nie. Iemand het vandag vir my gesê dat hy homself voorgeneem het dat, al sou hy alleen opdaag, hy steeds die roete sou stap.

Daar is diegene wat sal sê dis alles 'n mors van tyd – 'n sinnelose oefening - en ek kan insien hoekom hulle so sou voel. Ons weet immers nie alles nie, al probeer ons onsself en andere dikwels van ons slimmigheid oortuig. Dat dit egter verniet was glo ek nie, want een ding weet ek verseker, en dit is deur die eeue heen bewys deur mens en in die natuur – Eendrag Maak Mag.

Artikel en Beeldmateriaal: Anchen Coetzee vir Ama'Zone Media Solutions h/a Africa InTouch
Subredakteur: Lynette Brink / Letter Linguist 

Submit your opinion piece HERE or email editor@africaintouch.co.za  
Afrikaans and English contributions welcome.
Content of opinion pieces does not necessarily reflect the official opinion of Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch. Responsibility for the information and views expressed lies entirely with the author(s).

Die lewe begin iewers tussen asseblief en dankie

Wanneer daar geen basiese begrip is vir die twee eenvoudigste woorde nie, is jy klaar in jou peetjie in.
Anchen Coetzee

Dagga is now legal in the privacy of your home

What is your opinion about this?
Anchen Coetzee

It is a given fact that sex sells

I found that today’s tyre adverts is nothing compared to those of 97 years ago.
Anchen Coetzee