Solidariteit verwelkom VSA-verslag oor plaasaanvalle
Die onlangse besoek van senior lede van die Amerikaanse departement van buitelandse sake (State Department) se Bureau of Democracy, Human Rights, and Labor (DRL) aan Suid-Afrika om eerstehandse kennis oor verskeie sleutelkwessies rakende demokrasie, menseregte en arbeidsake in Suid-Afrika op te doen, was ʼn stap in die regte rigting. Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die Trump-administrasie in die VSA, en in die besonder die State Department, en sy leierskap bereid is om deur die beperkinge van die diepstaat, ou diplomatieke mure en uitgediende persepsies te breek deur self, eerstehandse kennis oor gebeure in Suid-Afrika op te doen.
Die feit dat die Trump-administrasie in sy verslag Suid-Afrika se reusepotensiaal erken en herbevestig, word verwelkom. Netso word opregte kommer uitgespreek oor die implikasies van ʼn algehele ineenstorting van wet en orde in die land – nie net vir buitelandse beleggers nie, maar ook vir die nasionale veiligheid van ʼn land soos die VSA.
Die aankondiging dat die VSA die brutaliteit en uniekheid van plaasaanvalle erken en sy diepe kommer daaroor uitspreek – ten spyte daarvan dat meeste lande en die internasionale hoofstroommedia vir lank verkies het om die probleem te ontken of bloot weg te kyk – word ten sterkste deur Solidariteit verwelkom.
As ʼn organisasie is ons sterk verbind tot ʼn beter Suid-Afrika, ʼn veiliger Suid-Afrika, ʼn voorspoediger Suid-Afrika. Probleme word nie opgelos deur hul bestaan te ontken nie. Probleme word opgelos deur dit eerlik te probeer aanspreek in samewerking met alle rolspelers. Solidariteit verklaar weereens dat ons elke dag hieraan werk. Ons is bereid om met enigeen saam te werk, insluitend die SA-regering, die Amerikaanse regering en enigiemand anders. Ons sal egter ook voortgaan om die ware toedrag van sake wêreldwyd op die agenda te plaas soos wat ons dit tans in die VSA doen.