Terug op SA bodem danksy lewenslange vriende
Uiteindelik, na presies ses maande en 26 dae, is ons terug op Suid-Afrikaanse bodem.
Ons beplande vyf-week vakansie na Nieu-Seeland in Februarie was met die uitbreek van Covid 19 regoor die wêreld verleng tot September.
Ek dink niemand het regtig die omvang van die pandemie se invloed besef voor ons nie pens en pootjies in die dilemma beland het nie. Wie sou ooit kon dink dat die opwinding van ‘n oorsese vakansie onvoorsiens verleng sou word sonder dat jy daarvoor gevra of dit beplan het?
Die virus het verreikende gevolge gehad en sy lang vingers het niemand onaangeraak gelaat nie. Daagliks het ons gehoor van mense wat siek word, doodgaan, werk verloor, gestrand sit in lughawens en in haglike omstandighede in lande, kroniese medikasie wat opraak, ouers wat van kinders geskei is. Daar was geen einde aan die lang lys van teëspoed nie.
Noodkrete het van oral uitgegaan en al was ons redelik veilig in Nieu-Seeland, moes ek ook onbetaalde verlof neem en het die vrees van hoe op dees aarde ons gaan oorleef, ‘n werklikheid geword.
Medies is tydelik gestaak, planne is gemaak met betalings aan versekering, huur, selfone en die ander maandelikse paaimente wat steeds betaal moes word.
As ek nou terugkyk na die afgelope maande is daar soveel dankbaarheid in my hart teenoor die baie mense, familie en vriende, asook vreemdelinge wat hand uitgesteek het om ons te ondersteun. Ons het 'n dak oor ons kop gehad, geld om kos te koop is weekliks aan ons gegee, en ons het ‘n voertuig gehad waarin ons kon rondry.
As jy oorsee gaan, val geld nie sommer uit die lug nie en 'n mens moet deeglik beplan en begroot vir alles wat jy wil doen en sien. Die rand se waarde is ook sleg in vergelyking met die New Zealand dollar en alles wat jy koop, is drie keer duurder as jy die prys na rande omreken.
Niks kon my egter voorberei vir die hand wat my Hoërskool Nelspruit matriekmaats van 1977 na ons uitgesteek het nie.

Foto: NHS Facebookblad.
Na aanleiding van versoeke om hulp met ‘n artikel wat in Africa in Touch News, Laevelder en op sosiale media verskyn het, het Marlene Wille ‘n nota op ons Facebook groep geplaas om te hoor of daar nie van die maats is wat kan help om ons in Suid-Afrika terug te kry nie.
Op daardie stadium het ons steeds gewag vir terugbetaling van ons Qantas vliegtuigkaartjies en het ons met Singapore kaartjies gesit wat moontlik eers in Desember gebruik sou kon word. Repatriasievlugte het in die omgewing van R24 000 tot R37 000 per person gekos.
Ons het net nie die finansies gehad om ‘n derde stel kaartjies te koop nie.
Ek het by elke moontlike WhatsApp en Facebook groep aangesluit om niks oor ‘n moontlike vlug terug huis toe te mis nie. Soos die weke maande geword het, het ons moed al verder in ons skoene gesak. Visums is aanvanklik deur die Nieu-Seeland regering verleng maar dit sou op 25 September weer verval en ons sou van vooraf moes aansoek doen om langer te bly en moes die keer die nodige mediese toetse daarvoor ondergaan. Uiteraard was dit nog ‘n finansiële uitgawe waarvoor ons nie beplan het nie.
Ek het vinnig op Marlene se nota gereageer en gesê dat ons versorg is en die situasie sal uit wag.
‘n Paar dae later verskyn daar toe ‘n versoek om hulp op ons matriek WhatsApp groep. Ek was verstom oor hoeveel van my ou skoolmaats aangedui het dat hulle meer as bereid is om hand in die sak te steek en ons te help.
Sake is verder eenvoudig uit my hand geneem deur Marlene, Pieter Dorey en Robbie Black.
Moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. Sluk jou trots en laat ons jou help, was die woorde wat hard geslaan het. Pieter het met behulp van WhatsApp video oproepe met my gesels, e-posse is na die groep uitgestuur en geld het in my rekening begin instroom!
Pieter het gereken ons sal mik vir so R40 000 waarmee ons darem hopelik kaartjies sou kon koop om terug te vlieg.
Ek en my man was stomgeslaan want binne drie weke is die R40 000 merk verbygesteek. Toe daar dus weer ‘n vlug vir 16 September deur Qatar aangekondig is, kon ek nuwe kaartjies teen R49 230 vir ons twee koop en kon ons uiteindelik terugvlieg SA toe.
‘n Skoolvriend uit Kanada het ‘n verdere bedrag inbetaal en skertsend gesê dis om hamburgers en chips op die vliegtuig te koop.
Kyk, ek het altyd geweet ons matriekgroep is ‘n besonderse groep. Noue bande is reeds tydens ons skooldae gesmee en dit het net hegter geword na ons skool verlaat het. Ons kom steeds ten minste een keer per jaar bymekaar, of ons nou vyf of 50 maters is.
Niks kon my egter voorberei vir dit wat hulle bereid was om vir ons te doen nie.
Ek en my man Mike wil vir elkeen van my ou skoomaats uit ons harte dankie sê vir jul ontbaatsugtige bereidwilligheid om ons te ondersteun. Sonder julle finansiële hulp sou ons nog steeds in Nieu-Seeland gesit het.
Daar is te veel name om hier te noem maar ek sal jul elkeen persoonlik bedank sodra ons tuis is in Barberton!
Vir my familie in Auckland, Toni en Malcolm Stuck, Braam en Judy Coetzee en ons vriende Dave, Karen en Mariette Taylor, asook Johan en Marielle Nienhuis – baie dankie dat julle ons summier onder julle vlerke geneem het en toegelaat het om by julle te “plak”. Vir die dak oor ons kop, kos en geleende wintersklere, om nie eers te praat van die ander bederf nie – julle sal geseën word en ons hoop om eendag ook ‘n klip (of in ons geval, ‘n oseaan) uit jul pad te kan rol.
Ons is tans in kwarantyn in Johannesburg en sal hopelik Maandag, 28 September kan huiswaarts keer na Barberton om met kinders en kleinkinders te herenig en ons lewens te hervat waar dit maande gelede skielik tot stilstand gekom het.

Ek glo die afgelope paar maande het ons voorberei vir iets groters. Wat, weet ons nog nie, maar wat soos ‘n paal bo water staan, is dat selfs in hierdie onseker tyd waarin ons lewe, daar verseker na elke af ‘n op, na elke traan ‘n lag, en na elke donker nag ‘n nuwe dag is wat skoon en mooi aanbreek.My maats laat my my kop in skaamte sak. Ek is vir seker ‘n nuwe mens wat met nuwe oë na die wêreld om my kyk. Julle onbaatsugtige liefde en omgee sal ek nooit vergeet nie.
God het ons nie verlaat nie, Hy het ons net ‘n kans gegee om stil te raak en opnuut te besef HY ís in beheer.
Redakteur: Anchen Coetzee
Geskryf deur: Lynette Spencer
Subredakteur: Mariana Balt