Lynette en Mike Spencer in gelukkiger dae.

Gestrand in 'n ander land

Posted in News by Lynette Spencer on 5 May, 2020 at 2:26 p.m.

Lynette Spencer is een van vele Suid-Afrikaners wat gestrand is in Nieu-Seeland. Lynette is 'n onderwyser van Barberton in die Laeveld asook 'n vryskut inhoud skrywer by Africa InTouch. Sy moet, soos die res van haar landsgenote, dringend terugkeer na eie bodem. Na die video, wat deur mede landsburgers in dieselfde bootjie gemaak is, waarin Lynette en haar man Mike ook te sien is, vertel sy haar storie. 
Indien enigiemand 'n oplossing kan bied, met 'n werkbare voorstel vorendag kan kom of oor die nodige kontakte beskik wat hierdie groep Suid-Afrikaners sal kan help om terug te keer huis toe, stuur haar asseblief 'n e-pos.

‘n Jarelange beplande vakansie na Nieu-Seeland, om by familie en vriende uit te kom wat ons in 20 jaar nie gesien het nie, het ontaard in ‘n nagmerrie met die uitbreek van Covid-19.

Ek en my man, Mike, sit gestrand in Auckland, Nieu-Seeland sedert 25 Maart. Ons sou op 27 Maart teruggevlieg het na Suid-Afrika na ‘n onvergeetlike paar weke van rondry en die besoek van ongelooflike mooi besienswaardighede. Dit was net pure bederf deur familie en vriende wat ons alles wou wys van hierdie pragtige land. Ons sal môre hier kom bly as ons net kon. Geen diefwering aan enige huis was die eerste wat my opgeval het, net ‘n gevoel van totale vryheid, vrede en lewe.

Daar is lewe buite Suid-Afrika en al is ons ‘n murg en bloed Suid-Afrikaanse burgers kan ek nou beter verstaan hoekom soveel mense die pad vat.

Ons moes ons aanvanklike vliegtuigkaartjies kanselleer en nuwes koop vir ons terugvlug. Dankie tog vir ‘n vriend wat finansieël kon bydra. Ek het die lugredery se webblad fyn dopgehou en dit het gelyk of alles nog in plek is. Toe gebeur die onvermydelike en Singapore sluit hul lughawe vir passasiers wat ‘n tweede vlug van daar moet haal. Die klein duiweltjie in my agterkop het werklikheid geword en ons het by vele ander dwarsoor die wêreld aangesluit wat gestrand gesit het. Ons omstandighede is gelukkig effe beter as die van ander aangesien ons by familie tuisgaan.

Binne die volgende paar dae het die harde werklikheid ons getref. WhatsApp-groepe is gestig en mense het begin rondskarrel vir hulp. Party was gestrand in lughawens, ander in hotelle en B&B’s waar hul duur moes betaal vir huisvesting. Op daardie stadium was die Rand/NZ$ 1 tot 10. Dit is duur om hier te oorleef.

Soos die dae weke geword het, het meer uitdagings te vore gekom. Kroniese medikasie raak klaar en om dit hier te probeer vervang is ‘n missie en baie duur. Daar is heelwat mense in ons Whatsapp-groep in Nieu-Seeland wat in hul 70’s is. Sommiges is diabete, het hoë bloeddruk, cholesterol en ander kwale. My man sukkel met ‘n rugprobleem en is geskeduleer vir ‘n operasie wanneer ons terug is in SA. Sy pynmedikasie is lankal op. Aanvanklik het ons sy afspraak uitgestel en toe uiteindelik gekanselleer.

Ons hoor van repatriasie vlugte - van ander lande af - niks van Nieu-Seeland af nie, en indien jy wel een kan haal, kos dit ‘n fortuin. Ons sit almal met ‘n retoerkaartjie wat ons nie nou kan gebruik nie. Die geld wat ons het word spandeer op verblyf en kos en data. Glo my, jy besef nie hoe bevoorreg jy is as jy Wi-Fi het nie. En daar is nie ‘n onuitputlike bron van geld nie.

Intussen gaan die lewe in SA aan. Ons moet steeds huur betaal, medies, versekering en alles wat as allerdaagse uitgawes beskou word. Ons moet terug werk toe, “no work, no pay”. Ek het ‘n bestuursliggaampos by ‘n skool. Gaan ek langer ‘n salaris ontvang as ek nie daar is nie? Hul sal iemand in my plek moet aanstel.

Die nuus vanuit SA is ook onrusbared. Kwarantynfasiliteite, mense oor 60 wat nie mag werk nie, werkloosheid. Dit alles dra by tot ons kommer en stres. Is ons nie dalk beter af waar ons hier sit nie?

Daar is mense in die agtergrond aan die werk en ons is dankbaar daarvoor. Ons weet niemand was voorbereid hiervoor nie, maar dit voel of ons hier in Nieu-Seeland vergete is. Die ambassade trek net skouers op en sê Dirco moet help. Indien privaat mense probeer help word hulle gekniehalter deur die onderskeie regerings en “red tape”.

Ek kyk nie meer nuus nie, vermy sosiale media en kyk net saans op die WhatsApp-groep of daar dalk iets positiefs die dag gebeur het. Die gesels met my kinders en kleinkinders in SA het my hoogtepunt van die dag geword. My skoonsus het gister haar stryd teen kanker verloor en ek wil net so graag my arms om my broer slaan en sê: “Als sal okay wees…”, maar ek kan nie.

Klein dingetjies in die lewe wat ons as vanselfsprekend aanvaar kry nuwe betekenis. Die wêreld gaan beslis nie dieselfde wees wanneer die krisis eers verby is nie.

Dis vandag dag 41 van “lockdown” in ‘n vreemde land. Ek sit nie in my eie huisie waar ek ten minste kan aangaan met my eie dinge nie. My lewe is op hold

Asseblief ons wil net huis toe gaan….

 

Swartland Auctioneers' second auction of the year delights attendees

Visitors can explore Swartland Auctioneers' offerings six days a week, affording many opportunity for purchasing.
Anchen Coetzee

Polisie laat geen steen onaangeroer om vermiste Joshlin op te spoor nie

Joshlin Smith is Dinsdag deur haar ma as vermis aangemeld by die Saldanha-polisiestasie.
Anchen Coetzee

Water gets clean bill from municipality: Scientist side-eyes the high aluminum levels

Rivier Rekord sought insights from MM De Jager (MSc. Biological Sciences; PhD candidate) to delve into the issue.
Anchen Coetzee

32-Year-old foreign national in custody for mandrax possession

Ten clear plastic bags containing mandrax tablets were found during the vehicle inspection.
Anchen Coetzee