Photo: Asya Morgunova@asiafish

Moenie gyselaar gehou word deur Corona nie: Beleef die lewe!

Posted in Lifestyle by Wahl Lessing on 1 September, 2020 at 9:13 p.m.

Die grendelstaat en inperkings was tot dusver meer inhiberend as wat baie mense daadwerklik besef het. Trouens, vir sommiges was dit niks minder as tronkstraf nie. En nie net fisies nie, maar geestelik ook.

Ook vir my was dit ’n unieke ervaring, iets soos ’n nie-alledaagse leerskool. Nie net weens die ongewoonheid van die hele situasie nie, maar ook interessant om na op te let was die wêreldbevolking se spektrum reaksies en emosies teenoor en as gevolg van daarvan.

Die mensdom het darem maar ’n oneindigende kapasiteit om te verras.

Soos ek die hele petalje gepeil het, was ons almal aan die begin van die jaar, net voor die stormwolke losgebars het, effe bang vir die onbekende wat voorgelê het, maar tog versigtig. Tydens die eerste drie weke (wat, moet ek julle herinner, aanvanklik belowe is om die hele omvang van die grendelstaat te gewees het) was ons die ene dapper soldate, en het ons voorrade opgegaar asof ons oorlog-oorlog speel. Teen die eerste verlenging van die inperking was dit wel ernstig, maar steeds iets wat ons met deursettingsvermoë kon hanteer. Teen die tweede verlenging was dit waaragtig nie meer snaaks nie. Om drank en tabak te verban was een ding, maar om drank ’n paar weke onder ons neuse te hou om dit later net weer so weg te raap, was die laaste strooi.

Die hele tyd het ons gemor en gekla, soos net Suid-Afrikaners kan. Ander was van die begin af glad nie ernstig oor die situasie nie, en het sonder maskers rondgeloop en samesweringsteorieë links en regs versprei. Nog ander het hulself van dag een af toegesluit, en daar was nooit weer van hulle gehoor nie. Soos iets uit Stephen King.

My eerste en grootste reaksie op al hierdie geharwar was dat ons darem maar soms, en ek verstout myself om dit hardop te sê, ondankbaar kan wees. Ja, van ons geriewe en vryheid is ons ’n tydjie lank ontneem, maar ons het dit nog die hele tyd hopeloos te gemaklik gehad, as jy jouself maar net indink wat ons voorouers moes deurgemaak het en oorleef het, en dit sonder om te mor. As jy jouself maar net kan verbeel hoe jy in daardie toestande sou vaar, en net sou besef dat dit glad nie vergelykbaar kan wees met vandag se situasie nie, sou jy besef vandag is waaragtig nie ’n patch op destyds nie!

Dink maar net aan oorloë soos ons dit lanklaas gehad het. Dink aan massamoord en doodslag. Dink aan sinnelose onderonsies oor landsgrense en water en olie en goud en diamante. Dink aan konsentrasiekampe en moeders en kinders alleen in die wêreld. Dink aan rook wat uit ’n gaskamer uit borrel, en aan trommels vol ou, vuil klere, balies vol ou skoene, stoorkamers vol meubels en skilderye en kosbaarhede. Dink aan kiste vol juwele. Dink aan kiste vol goue tande, selfs.

Wat is ’n paar maande met ’n masker aan?

Of jy nou glo ons doen wat ons kan om onsself te beskerm, en of jy nou glo dis alles ’n komplot om ons te verswak en in toom te hou, is dit nie nou ter sprake nie. Waarop ek wil fokus is aanvaarding en positiwiteit.

Ek glo vas ons sou glad nie soveel oor die situasie gekla het as ons nie soveel tyd vasgevang en opgeskeep by die huis gesit het nie. Van ons het die beste gedoen onder die omstandighede om onsself besig te hou; om kreatief, skeppend, vlytig en ywerig onsself te bemoei met positiewe, vermaaklike en tydverdrywende stokperdjies en projekkies. Ander het nou weer net gesit en gewag op beter dae.

Maar wraggies, onder vlak twee van die grendelstaat het geeneen nou meer ’n verskoning nie. Daar is soveel daar buite om te kan sien en doen, om net so ’n bietjie te kan ontsnap en jouself weer te kan vind, en jou menslikheid te kan bevestig. Om die negatiwiteit uit jou gedagtes te verdryf en te vervang met die positiewe. Om lewe te kan geniet, want dit is van korte duur, en daarom ’n onprysbare waardevolle geskenk.

En dit is ook glad nie ’n kwessie om jou opnuut te bekommer oor hoe jy corona sal kan vang, of oor hoe jy enige buitelugaktiwiteite sal kan bekostig nie. Ja, ek is bewus die virus bestaan en is lewensgevaarlik, en ek is bewus baie mense sit sonder werk en inkomste. Maar realisties is daar geen rede hoekom ons onsself nie mag geniet ten spyte van dit wat in die wêreld aan die gang is nie.

Ek dink byvoorbeeld aan velde en openbare parkies, waar ’n mens kosteloos kan gaan draf, die honde vat om te gaan stap, of kan piekniek hou. ’n Pluimbalstelletjie is net so oor die R100, en is seker een van die lekkerste, kompeterende maar tog informeel vriendskaplike sportsoorte vandag. Skaf een aan en probeer dit; jy sal en kan nie spyt wees nie.

Botaniese tuine is ook ’n opsie. Alhoewel dit winter is, en koud en droog en dor is op sekere plekke in die land, is die meeste van die planteryk daar in elk geval immergroen en verruklik.

As jy ’n nabygeleë dam kan besoek, en een van daardie pontondekke in die hande kan kry, kan ek dit nie genoeg aanbeveel nie. Ek was gelukkig genoeg om die naweek, net so voor die ysigste koue, op een te kon dryf op ’n privaat, donkerblou en spieëlagtige dam diep in die denneplantasies iewers hier in die Laeveld. En dit het my siel verkwik en my ’n nuwe lus vir die lewe gegee. Dit was helend op my geestestoestand en absoluut noodsaaklik vir my gestel. Was ek nou ’n diktator, het ek dit verpligtend gemaak vir almal een naweek elke maand.

Die pontondek was ’n eenvoudige, tuisgemaakte houtvloer op blou dromme, so ewe met trappies, tafeltjie in die middel, afdak bo-oor, en ’n braaier op die een hoekpaal. Ek het uitgeroei na waar ek vermoed het was die heel middelste van die dam, anker gegooi, die sonsondergang met ’n Huntersie geniet, en oornag in ’n slaapsak so half onder die tafeltjie uit, waar ek na die wolke gelê en tuur het tot ek weggedryf het na die rustigste slaap wat ek in ’n baie lang tyd geniet het.

Dit was ’n geleentheid vir introspeksie en voorraadopname. Net wat ons elkeen nou nodig het! 

Redakteur: Anchen Coetzee
Geskryf deur: Wahl Lessing
Beelde: Unsplash (Digitaal aangepas AIT)

 

What is narcissism and is there a cure?

Being simply egotistical, which, let’s face it, we all are, is not necessarily the same as being narcissistic.
Naomi Roebert

A look inside the magical, enigmatic and captivating mind of a procrastinator

The rebellious delight of playing when you should be working is very soon followed by a deeper sense of impending doom.
Naomi Roebert

The forgotten ones: life in the platteland during lockdown

We tuned the draadloos to RSG and heard that benign phrase that would turn ominous in later months: “My fellow South Africans…”
Naomi Roebert

The delights of reading and the beauty of second-hand books

Second-hand bookshops deserve your support. These shops are run by people with a passion for that they do.
Wahl Lessing