Beeld: Shutterstock.

Die Solidariteit Beweging kondig planne aan om Covid-19 te bestry

Posted in News by Admin on 18 March, 2020 at 4:59 p.m.

Die Solidariteit Beweging het vandag omvattende planne bekend gemaak om Covid-19 te bestry. Die Beweging het ook ʼn aanbod aan die regering gemaak om saam te werk om die verspreiding van die virus te keer en die impak van die drastiese maatreëls te versag.
 
Die planne behels onder meer ʼn korona-krisissentrum, samewerking met die regering se rampbestuursentrum, veiligheidstrategieë, maatskaplike ondersteuning aan gemeenskappe, hulp met opsporing, ondersteuning aan skole, ouers en leerlinge, hulp en inligting aan mense in werkplekke, en ondersteuning aan kunstenaars.
 
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, kan Covid-19 ʼn nuwe wêreld inlui. Hierdie virus kan ʼn nuwe verwysingspunt in die wêreldgeskiedenis word. Dit kan ongelooflike ekonomiese en staatkundige gevolge hê. Die Solidariteit Beweging gaan in krisisbestuursrat,” het Buys gesê.
 
Die Solidariteit Beweging het ook bekend gemaak dat ʼn krisiskomitee op ʼn daaglikse basis sal vergader om aksieplanne volgens die nuutste inligting te implementeer.
 
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die burgerlike samelewing deurslaggewend in die bekamping van die virus. Solidariteit het ook ʼn korona-krisissentrum in die lewe geroep wat veral mense in werkplekke gaan ondersteun.
 
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die belangrikheid van samewerking beklemtoon. “Politieke en ideologiese verskille moet nou vir eers agtergelaat word. Suid-Afrika het nou een gemeenskaplike vyand en dit is Covid-19,” het hy gesê. Volgens Kriel is die regering se rampbestuursentrum reeds gekontak met ʼn aanbod om te help en saam te werk.
 
AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het ook ʼn spesiale beheerkamer bekend gestel wat onder meer veiligheidsverwante uitdagings sal koördineer en sal help met opsporingspogings.
 
Die Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende hoof, Hannes Noëth, het sy kommer oor die maatskaplike gevolge van die drastiese stappe uitgespreek. Een voorbeeld is die 8 000 kleuters wat Solidariteit Helpende Hand elke dag kosgee wat skielik nie meer toegang tot maaltye het nie. Hy het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om te help om die dreigende maatskaplike krisis te help hanteer.
 
Die Skoleondersteuningsentrum het ook bekend gemaak dat die Wolkskool duisende video’s, vraestelle en werkkaarte tot einde Junie gratis beskikbaar sal stel om leerlinge te ondersteun om self by die huis te kan werk.
 
Daar is ook aangekondig dat spesiale stappe beoog word om kunstenaars te ondersteun.
Akademia het ook aangekondig dat hy steeds voortgegaan word met klasse op sy aanlyn platform.
 
Die Solidariteit Beweging se Covid-19-krisisplan in ʼn neutedop, is soos volg:

  1. Samewerking met die regering
    Daar is reeds uitgereik na die regering se nasionale gesamentlike rampbestuursentrum. Samewerking op provinsiale en plaaslike vlak word beplan.
  2. Solidariteit se korona-krisissentrum om werknemers te steun
    Werknemers kan hier alle werkverwante vrae en antwoorde, inligting oor die virus en algemene inligting kry. ʼn Spesiale krisislyn gaan ingestel word.
  3. AfriForum se sentrale veiligheidbeheersentrum
    Veiligheidskwessies gaan gekoördineer word. Moontlike onrus sal hanteer word. Algemene strategiese inligting sal ontvang en verwerk word.
  4. Hulp met opsporing
    AfriForum Veiligheid het reeds aangebied om die nasionale rampbestuursentrum te help met opsporing.
  5. Ekonomiese aktiwiteit
    Volledige planne om die ekonomie steeds te laat funksioneer gaan aan die regering voorgelê word. Solidariteit gaan met werkgewers in gesprek tree oor die balans wat tussen besigheid en veiligheid gehandhaaf moet word.
  6. Maatskaplike hulp
    Solidariteit Helpende Hand gaan 15 maatskaplike werkers landswyd gebruik om gemeenskappe in staat te stel om die maatskaplike uitdagings te bowe te kom weens die ingrepe om die virus te keer, en om siekte as gevolg van die virus te oorkom.
  7. Hulp aan skoliere en ouers
    Die Skoleondersteuningsentrum gaan tot 30 Junie duisende video’s, werkkaarte, vraestelle en ander hulpmiddels gratis op sy Wolkskool beskikbaar stel om skoliere in staat te stel om van die huis af te studeer.
  8. Inligting oor virus deur e-leer en webinare
    Solidariteit gaan deur sy S-leer-platform ’n reeks e-leerkursusse aanbied om kinders en volwassenes oor Covid-19 in te lig. Daar gaan ook weekliks webinare aangebied word.
  9. Ondersteuning aan die kunste
    Die FAK, Maroela Media, die Solidariteit Beroepsgilde vir die Kunste en Dapper Media gaan planne uitrol om kunstenaars te beskerm. Op kort termyn gaan gepoog word om te help om onmiddellike finansiële nood te verlig, maar op medium en lang termyn gaan gekyk word na elektroniese platforms en alternatiewe vorme van konserte.
  10. Nasionale krisiskomitee en interne aksie
    Die Solidariteit Beweging het ʼn nasionale krisiskomitee gevestig wat daagliks vergader en aksieplanne volgens die nuutste inligting sal aanpas. Die Beweging het ook alle internasionale reise gestop en binnelandse reise word tot die minimum beperk. Ingrypende maatreëls is in plek om te keer dat personeel die virus opdoen. 

Redakteur: Anchen Coetzee / Africa InTouch News
Ingedien deur: Solidariteit Media

Presidential address on SA's response to the Coronavirus pandemic

There are now just over 11,000 active coronavirus cases in the country.
Admin

Western Cape Covid-19 infections to date

Statistical update on the coronavirus by Premier Alan Winde.
Admin

Afrikaans.com is op soek na sterre vir 'n TV-advertensie

Sit sommer vandag nog jou kreatiewe hoed op en maak jou video.
Admin

"When people zol" is more than an earworm

The tobacco industry is like a woman scorned and hell hath no fury like a scorned woman, or a smoker without his fix.
Liezel Thorne