Steval Pumas groei baarde vir goeie doel
Die Steval Pumas het met trots hul verbintenis met minderbevoorregte kinders in die Laeveld gewys deur ‘n besluit te neem om tot 1 Junie ongeskeerd te gaan. Hierdie poging is om bewustheid te skep en fondse in te samel vir die Woodhouse Gemeenskapsentrum kinderhuis in Mataffin. Hulle het saamgespan met die plaaslike petrol verskaffer en borg Milviforce Puma N4, en die inisiatief is daarop gemik om geld in te samel vir die bou van 'n broodnodige biblioteek vir die kinders.
Die #Pumasbeardbrothers moedig lede van die publiek aan om mee te doen aan hierdie inisiatief deur hul baarde te laat groei en die geld, wat normaalweg gebruik sou word vir skeer-doeleindes, aan die kinders te skenk. 'n Versamelpunt vir insamelings sal opgestel word by die Milviforce vulstasie op die N4 net verby I'Langa Mall, waar die publiek ook ander items soos boeke en skryfbehoeftes sal kan skenk.
Die uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby, Pieter Burger, wat ook sy skeermes sal bêre vir hierdie doel, het gesê dat dit hom beïndruk dat die idee van binne die groep gekom het.
"Ons is baie beïndruk dat die spelers self met hierdie idee vorendag gekom het. Dit bewys dat hulle sterk voel daaroor om persoonlik betrokke te raak by die verbetering van die lewens van die mense in hul gemeenskap. Ons is altyd op soek na waardige gemeenskaps-inisiatiewe om deur die jaar te ondersteun en hierdie is die perfekte begin tot 2017," het Burger gesê en ook sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die Milviforce eienaar, Tshepiso Phosa, vir die vennootskap met die span.
Die spanne se baarde sal in tip-top vorm gehou word deur Meyer Le Roux van Buffelsfontein Baard-Olie in Pretoria. Hulle sal die produkte verskaf, prettige kompetisies loots en die inisiatief op sosiale media deel.
Die Steval Pumas hoop dat hul baard-groei-inisiatief sal uitbrei na vriende, familie en ondersteuners, om sodoende die kinders die geleentheid te gee om te leer om te lees en hul wêreld uit te brei.
Hou gerus 'n ogie oor die Steval Pumas se Facebook-blad, waar almal op hoogte gehou sal word van die spelers se vordering.
PR deur: Mpumalanga Rugby (Pty) Ltd / Kathleen Bailie