Pa verklaar oorlog teen dwelmhandelaars
BARBERTON - Die pa van ‘n 17-jarige tiener, wat Maandag in ‘n donga in die dorp gevind en tans in die hospitaal is, het hom daartoe verbind om Barberton se dwelmhandelaars in hul spore te stop.
Dwayne Botes was Saterdagoggend laas saam met ‘n vriendin in Shoprite opgemerk.
Volgens Hennie het hulle nie dadelik onraad vermoed nie, want Dwayne is ‘n werkende jong man wat nie dag en nag deur hulle opgepas word nie.
Die soektog het in alle erns begin toe hulle hom nie op sy selfoon kon opspoor nie en het Sondag voortgeduur. ‘n Vermiste persone saak is eers vroeg Maandagoggend by die polisie aanhangig gemaak. Maandag was ook Dwayne se 17de verjaarsdag.
Maandag omstreeks 12:00 het dieselfde vriendin saam met wie Dwayne laas gesien was klaarblyklik toevallig op hom afgekom waar hy aangrensend die spruit naby die tennisbane gelê het. Sy het hom na sy werksplek geneem waar sy pa hom kom haal en hospitaal toe geneem het.
Hennie Botes kyk na die plek waar sy seun gevind is.
Tydens sy gesprek met Africa InTouch News oppad na die hospitaal, het Hennie in trane gesê "Sy hande en voete is so koud soos ys en hy het net 'n kortbroek, T-hemp en tekkies aan. Hy lyk verskriklik sleg!"
Dwayne is opgeneem in Barberton Provinsiale Hospitaal en het aanvanklik aan geheueverlies gely. Hy het sy pa en broer eers heelwat later in die dag herken.
Hennie sê hy het rede om te glo dat sy seun dwelms by 'n handelaar in die dorp gekoop het, maar op hierdie stadium is daar nog baie vrae en los drade wat ondersoek moet word.
"Een ding is seker - die dwelmhandelaars moet gestop word. Hulle maak ons kinders dood en ek wil die gemeenskap versoek om saam te staan en hierdie ongewenste elemente uit te roei. Almal in die dorp is bewus van die dwelmprobleem onder ons kinders, maar niemand blyk iets te doen. My seun kon dood gewees het en ek sal nie rus totdat die laaste dwelmhandelaar Barberton verlaat nie! "
Op Dinsdagoggend was Dwayne heelwat beter, maar sal moontlik nog ‘n paar dae in die hospitaal moet vertoef.
Vir enige inligting rakende hierdie of soortgelyke aangeleenthede, kontak Kapt Nkosi van die Barberton Polisie op 013-712-2233.
Lees vorige berig HIER.
Geskryf deur Anchen Coetzee vir Ama'Zone Media Solutions h/a Africa InTouch