Photo: Smiling_Vivian.

Solidariteit Beweging stel digitale kultuurtuiste bekend vir Afrikaners oraloor

Posted in News by Pieter Jordaan on 3 September, 2025 at 10 a.m.

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n splinternuwe digitale kultuurtuiste bekendgestel wat Afrikaners wêreldwyd tot ’n lewende gemeenskap verbind wat kultuur, Afrikaans en betrokkenheid bevorder en ondersteun.

MyHartland is gebore vanuit die droom om Afrikaners regoor die wêreld met mekaar en hulle tuisland – oftewel Hartland – te verbind, maak nie saak waar hulle hulself bevind nie.

Navorsing wat deur die Solidariteit Beweging onderneem is, het gevind dat Afrikaners in baie gevalle geïsoleerd voel wanneer hulle emigreer, en veral ’n hunkering het na hul taal, kultuur, familie en alles wat Afrikaners uniek maak. Die Solidariteit Beweging het ook na suksesvolle projekte van ander lande soos Armenië, Indië, Ierland, Hongarye, Italië en Israel, wat hul diasporas tot wedersydse voordeel saamsnoer, gekyk.

Dié navorsing het bygedra tot die ontwikkeling van MyHartland en die aanbod wat daarin verpak is. Dié kultuurtuiste laat Afrikaners toe om ook digitaal ʼn kultuurburger te word en bied hulle die geleentheid om deel te wees van iets groter deur by verskeie projekte betrokke te raak wat ’n wesenlike verskil in die lewe en toekoms van Afrikaners en Afrikaanse gemeenskappe kan maak.

“Iets wat ons die meeste vanuit die navorsing bekommer het, was tweede generasie vervreemding en Afrikaners in die buiteland se behoefte om die Afrikaanse taal en kultuur by hul kinders in te burger – en die uitdagings wat daarmee saamgaan om dít suksesvol te kan doen,” sê Marisa Engelbrecht, internasionale skakelbeampte by die Solidariteit Beweging.

“Ons het só baie opwindende projekte en hulpmiddels in die Solidariteit Beweging wat ons maklik vir ons mense in die buiteland kon herverpak. In dieselfde asem was daar ook ’n behoefte van ons mense in die buiteland om steeds betrokke te wees by plaaslike projekte. Baie Afrikaners het nog familie en vriende in Suid-Afrika en wil graag bydra tot suksesvolle kultuurprojekte hier.” MyHartland is ook nie net op sekere Afrikaners gemik nie: Of jy tydelik of permanent, lank gelede óf meer onlangs na die buiteland verhuis het – MyHartland is vir jou.

Hier kan Afrikaners onder meer na radiovervogverhale en boekvoorlesings luister, Afrikaanse programme kyk, in hulle Moedertaal op hoogte van die jongste nuus en geleenthede bly, meer oor die Afrikanerkultuur, huidige projekte en geleenthede leer, boerekosresepte ontdek en deel, en selfs hulle eie storie neerpen.

Die kinderhoekie op die MyHartland-blad bied ook hope vermaak, lees- en leerstof vir die kleinspan, wat beslis ’n passie vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur by hulle sal kweek.

“Ons wil Afrikaners help om hul taal, tradisies en waardes lewendig te hou – ook vir die tweede en derde generasies wat in die buiteland grootword. “MyHartland wil die brug wees tussen emosionele verbondenheid en praktiese bydrae, sodat mense nie net nostalgies terugkyk nie, maar aktief kan help bou. Ons planne is nog baie groot en hierdie is slegs die wegspringpunt. Ons sal natuurlik ook baie graag van ons mense in die buiteland wil hoor – wat hulle kultuurbehoeftes is, waarvan hulle meer wil sien, wat hulle nodig het om ons taal en kultuur by ons kinders en jongmense lewendig te hou ensovoorts,” sê Engelbrecht.

Sonder ’n gedeelde platform soos MyHartland bly gemeenskappe losstaande en individue vervreem. MyHartland wil die sentrale plek wees waar Afrikaanse mense hulself aanlyn oor grense heen kan herorganiseer. Dié platform is vir diegene wat weg is, maar nie noodwendig “weg” van hul mense, taal en kultuur wil wees nie. “As jy al ooit verlang het na ’n braai saam met jou mense, ’n Geloftedagviering met jou kinders, of as jy bloot met iemand, wat regtig verstaan hoe jy voel, wil skakel, dan is MyHartland vir jou,” sê Engelbrecht.

Daar is verder verskeie projekte waarby jy as digitale kultuurburger betrokke kan raak, insluitend:

  • Noodvoeding by behoeftige Afrikaanse skole: Kosblikkieprojek
  • Plaas- en gemeenskapsveiligheid
  • Afrikaanse onderwys
  • Studiefondse vir behoeftige studente
  • Regsfonds om rassekwotas en korrupsie te beveg
  • Bevordering van Afrikaans as taal
  • Erfenisbewaring: Voortrekkermonument

Skink gerus vir jou ’n koppie boeretroos en besoek MyHartland vandag nog by www.myhartland.co.za.

Photo: Smiling_Vivian

iOlogue Media's new publication flips the script on markets and tech

The content is aimed at younger adults, but also resonates with anyone looking for a break from clickbait material.
Charlotte Hayes

Solidariteit verwelkom VSA-verslag oor plaasaanvalle

Die aankondiging dat die VSA die brutaliteit van plaasaanvalle erken word ten sterkste deur Solidariteit verwelkom.
Pieter Jordaan

Mitchell's Plain police seize firearms during gang patrol

A 28-year-old man was arrested and is facing charges related to the illegal possession of prohibited firearms and ammunition.
Anchen Coetzee

VSA-tariewe: Laaste kans vir Ramaphosa om groot werksverliese te red

“Die SA regering het die land en sy mense gefaal en ideologiese stiksienigheid en politieke arrogansie gaan gewone mense hulle werk kos.”
Pieter Jordaan