Kobus de Wet, oud-skoolhoof van BHS, se lewe na aftrede

Kobus de Wet was vir 20 jaar verbonde aan Hoërskool Barberton, en De Kaap Echo het hom uitgevra oor sy herinneringe aan sy lewe hier en wat hy na sy aftrede gedoen het.
Volgens De Wet is hul gesinslewe met vele mooi, maar ongelukkig ook heelwat hartseer herinneringe, gevul.
Hulle het aanvanklik in 1985 in die skoolhuis by die Steinstraat-ingang gewoon, maar in 1988 hul eie woning in Norman Naderstraat betrek. Hy was destyds die Departementshoof vir Afrikaans, terwyl sy vrou, Ariane, eers as suster by Barberton Provinsiale Hospitaal, later as assistent by die kleuterskool, en toe ook weer as suster, by Barberton se Medi Kliniek gewerk het. “In 1990 het ek die legendariese oom Cliff Cloete as adjunkhoof opgevolg, en in 2001 die leisels as skoolhoof, by Chris Mulder oorgeneem,” het De Wet vertel.

Die egpaar het twee seuns. Die oudste Chris, was 'n leerling aan Laerskool Barberton, vanaf 1990 tot 1996. Die jonger seun, Gert, het ook sy skoolopleiding in 1993 by die laerskool begin. Hy is ongelukkig in Maart 1994 in Generaalstraat deur 'n motor raakgery en het erge breinskade opgedoen. Die gesin was toe genoop om Nelspruit toe te trek, om nader aan al die terapeute en ander mediese geriewe wat Gert benodig het, te kon wees.
“Ek het daagliks tussen Barberton en Nelspruit gependel. Na Mulder se aftrede, het ons vir drie jaar weer op Barberton gaan woon, maar die uitdagings wat Gert se verdoemende prognose gebied het, het my in 2004 laat besluit om vroeë af te tree en ons het teruggetrek Nelspruit toe.”
Hy het egter steeds skool gehou en was vir 10 jaar 'n Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Nelspruit. Ariane het gedurende daardie tyd 'n nagskofpos by SAVF Herfsakker ouetehuis beklee.

Einde 2014 roep De Wet finaal die onderwys vaarwel toe, en het die gesin hul op Kleinmond gaan vestig, 'n pragtige kusdorpie aan die Wes-Kaap se suidkus. Van stil sit was daar geen sprake nie en hy aanvaar werk by ‘n plaaslike fynbos kwekery. Ariane het weer gaan verpleeg, dié keer by die Kogelpark-aftreeoord se Gerimed-afdeling. Daar het sy onder meer vir Pieta Pieterse, oudhoof van Laerskool Barberton, verpleeg. Sy het aan die begin van 2025 afgetree.
De Wet is in 2017 met prostaatkanker gediagnoseer, en na 'n paar operasies en bestraling, het hy toe 'n 'rustende afgetredene' geword. Die kanker is tans genadiglik in remissie. Stokperdjies soos natuur-fotografie, tuinmaak, staptogte langs die see, asook skryfwerk, hou hom nou besig en hy het sedertien agt boeke gepubliseer. Een van die huidige voorgeskrewe matriekgedigte, ‘Tsunami’, kom hoeka uit sy digbundel 'Toetrede'. “Verder verken ons die lieflike Overberg en ander Wes-Kaap streke, waarvan ons vroeër net gehoor het.”
Chris het hom as IT-ingenieur bekwaam, en na 'n paar jaar in KZN, na Tallinn, die hoofstad van Estland (Estonia), geëmigreer. Later het hy en sy vrou hulle op die eiland Siprus gaan vestig, waar albei steeds vir 'n internasionale IT-maatskappy werk. “Gert is ons 'child for life', en 'n ware steunpilaar en vreugde in die huis.”

Volgens De Wet is hy nog steeds in kontak met tientalle oud-Barbertonners, danksy sosiale media. “Ons gesels lekker oor die 'goeie ou dae' van tennistoere, atletiekbyeenkomste en skoolkonserte. Omdat ek destyds direk by die jaarblaaie betrokke was, het ek steeds talle ou foto's in my lessenaarlaaie.” De Wet plaas gereeld van die ou foto’s op Facebook, en volgens hom is dit wonderlik om te sien hoe dit talle 'onthou-jy-nog' reaksies ontlok.
Een van die sporadiese gebeure wat hom groot vreugde verskaf, is wanneer 'n oudkollega of -leerling in hulle geweste gaan vakansie hou, en dan kom groet. “Natuurlik word daar heerlik gesels, ou herinneringe opgediep en bande verstewig. Talle van hulle is ook lojale ondersteuners, wanneer ek 'n nuwe boek publiseer.” Om ’n eksemplaar van De Wet se boek Trek af, plak toe! te bekom, kontak hom per WhatsApp of e-pos.
Volgens De Wet is van sy wonderlikste Barberton-herinneringe, die vele aangename ure wat hy destyds as aktiewe lid van die dorp se tennis- en rolbalklub deurgebring het. “Dit was nog in die jare toe bekendes soos John en Laurette Duncan, Christina Bosua, Ingrid Seipel, Marinda Klaver en vele ander, my tennismaats was.” As hy terugdink aan sy rolbaldae kom name van spelers soos Willem van Zyl, Hannie von Zweel, Eve Spiers, Marion Dimond, Anna Marsili, Piet en Lettie Myburgh op. Dit is vriendskappe wat hy altyd met hom sal saamdra.
De Wet het sy gesels afgesluit met: “Groete aan almal wat ons dalk met 'n glimlag onthou. Ons is deur diep waters, maar dit gaan goed met die De Wet-gesin, danksy groot genade van Bo!”
