Erika sluit haar roemryke onderwysloopbaan op 'n hoogtepunt af

Na 41 jaar in die onderwys het Erika Joubert einde 2024 amptelik afgetree. Dié gerespekteerde opvoeder, wat haar onderwysloopbaan by Laerskool Barberton Primary begin het sonder om eers te weet waar Barberton is, het haar laaste jaar in die beroep op ‘n hoogtepunt afgesluit met nasionale erkenning van die ‘South African Council for Educators (SACE)’.
Erika het in 1994, saam met haar drie jong kinders, na Barberton verhuis nadat sy sonder enige verwagtinge aansoek gedoen het vir ’n pos by die plaaslike laerskool. Sy is as ’n Graad 3 juffrou aangestel onder leiding van die destydse skoolhoof, Jan de Waard, wat ook ’n belangrike mentor in haar loopbaan was. Sy het ook vir ’n ruk Graad 4 klas gegee voordat sy oorgeskakel het na Graad 1, waar sy onder Mara van Rooyen gewerk het en ook as graadhoof opgetree het.

In 2004 het sy vir drie jaar haar hand aan die gasvryheidsbedryf gewaag, maar die onderwys het haar teruggeroep. In 2007 keer sy terug na Laerskool Barberton Primary en oorreed De Waard, wat steeds hoof was, haar om aansoek te doen vir die pos as departementshoof van die grondslagfase, wat sy suksesvol gekry het. Vanaf daardie jaar tot Julie 2024 was dit haar verantwoordelikheid. In haar laaste paar maande voor aftrede is sy aangewys as waarnemende adjunkhoof, ’n prestasie waarop sy met trots terugkyk.
“Dit was ’n voorreg om met die leerders te werk en ondersteuning te verleen waar nodig. Die onderhoude met ouers het waardevolle insigte gelewer. Suksesverhale, hoe klein ook al, maak die jare se harde werk die moeite werd,” vertel Erika. Sy het die samewerking en kameraadskap met kollegas as een van die grootste gawes van haar loopbaan beskryf.
Die kersie op die koek het in Februarie 2025 gekom toe Erika een van slegs vyf onderwysers uit Mpumalanga was wat genooi is om die prestigeryke ‘Teachers' Practitioners' Research Colloquium’ in Gqeberha by te woon. Drie van dié vyf uit die provinsie het die geleentheid bygewoon. Die geleentheid, georganiseer deur SACE, het opvoeders van regoor die land byeen gebring om navorsing, onderriginnovasies en leierskapservarings te deel.

Tydens die gala-geleentheid is die top presteerders van elke provinsie vereer. Erika was een van Mpumalanga se top 5 presteerders, met die hoogste puntetoekenning in die “Continuing Professional Teacher Development (CPTD)”-stelsel, en is beloon met ’n draagbare projector wat aan haar oorhandig is deur die uitvoerende hoof van Old Mutual. Die top kandidaat in elke provinsie het ook R5 000 kontant ontvang, terwyl die algehele nasionale wenner met R10 000 huis toe is.
Sy het ook tydens die Gala aand die voorreg gehad om ‘n toespraak te lewer oor die CPTD sisteem wat deur skole landswyd gevolg word. “SACE erken die moeite wat opvoeders insit. Hulle is bereid om dié wat uitblink, te beloon. Jy moet net besluit, wil jy net aanhou aanstap of wil jy elke dag streef om beter te wees? Moenie middelmatig wees nie. Staan uit en versprei die opgewondenheid,” sê Erika met haar kenmerkende entoesiasme.
