Rassebeleid dryf internetkoste op en jou selfoondata betaal die prys
Die Starlink-satellietmaatskappy bied bekostigbare internetdienste, terwyl maatskappye in Suid-Afrika veel duurder is.
Die kern van die probleem lê by Suid-Afrika se regulatoriese raamwerk, wat insluit dat enige speler in die telekommunikasiemark aan streng SEB-vereistes en ’n 30%- swart eienaarskapskriterium moet voldoen. In die verslag word ’n waarskuwing gerig oor hoe dit vir internasionale diensverskaffers feitlik onmoontlik is om plaaslik wettig handel te dryf – terwyl lande soos Botswana, Nigerië en Mosambiek reeds voordeel trek uit dié maatskappy se bekostigbare, hoëspoedsatellietdienste. In plaas daarvan om ekonomiese deelname in Suid-Afrika te verbreed, sluit die huidige beleid kleiner plaaslike ondernemings én internasionale diensverskaffers uit. Die verslag wys ook daar is vir meer as tien jaar lank geen nuwe telekommunikasielisensies uitgereik nie. Nuwe toetreders word dus dikwels genoodsaak om teen hoë koste tweedehandse lisensies aan te skaf – ’n verdere struikelblok vir groei.
Lees die verslag hier.
Die nagevolge hiervan is min mededinging, hoër pryse en onvoldoende internetdekking. Die koste van Suid-Afrika se streng rassebeleid word meetbaar wanneer data aan geld gekoppel word. Volgens die verslag betaal Suid-Afrikaanse selfoongebruikers gemiddeld $1,18 vir 1 GB data – soortgelyk aan pryse in sommige eerstewêreldlande. Ter vergelyking: Starlink bied in buurlande internetdienste teen sowat $0,14 per GB aan – minder as ’n vyfde van die plaaslike koste. Suid-Afrika se onbuigsame SEB-vereistes maak sulke laekoste-opsies ontoeganklik. Die ironie is dat dié beleid wat bedoel is om transformasie te bevorder, die teenoorgestelde uitwerking het: dit hou miljoene uitgesluit van die digitale ekonomie.
Lees die verslag hier.
“Die oplossing is eenvoudig. Die verslag wys duidelik dat SEB-vereistes meer mense uitsluit as insluit,” het Myrtle Endley gesê, die navorser wat die verslag opgestel het. “Ander voorstelle sluit in die versnelde uitreiking van nuwe lisensies, die vrystelling van breëbandvriendelike frekwensies, en belastingverligting op telekommunikasietoerusting – stappe wat mededinging kan bevorder en koste vir eindgebruikers kan verlaag. Beleid moet prakties en ekonomies lewensvatbaar wees, anders ry dit opheffing in die wiele. Dit help nie om toegang tot ’n nuwe digitale ekonomie te verhoed ter wille van ideologiese reëls wat nie werk nie.”