Nalizeri Pretorius fluit haar pad oop na die top van SA rugby
Nalizeri Pretorius (18) van Barberton is besig om haar merk te maak in die rugbywêreld as een van die mees belowende jong vroue skeidsregters in Mpumalanga. Sy het reeds in laerskool begin belangstel in die sport, en vandag is sy nie net ’n bekende gesig op plaaslike rugbyvelde nie, maar ook ’n voorbeeld van vasberadenheid en passie.
Nalizeri het haar hele lewe lank in Barberton gewoon en was ’n leerling by Barberton Kleuterskool, Laerskool Barberton Primary en Hoërskool Barberton, waar sy in 2024 gematrikuleer het. Haar liefde vir rugby het in 2019 begin toe sy in graad 7 as “ball-boy” by Mbombela Stadion wou help. Daar het haar pad egter onverwags ‘n ander wending ingeneem toe Sarel du Toit (foto bo links saam met Nalizeri)
haar gevra het of sy eerder water-draer vir die skeidsregter wou wees. “Toe ek weer sien, het ek daai naweek vir die skeidsregter water gevat.”
Met die aanmoediging van Du Toit, wat haar mentor sou word, het sy aangesluit by die Puma Skeidsregtersunie. In Augustus 2019 het sy haar eerste rol as lynregter vervul by ’n sewes-toernooi. Al het die Covid-pandemie haar vooruitgang vir ’n rukkie vertraag, het sy teruggekeer met hernude energie toe sport weer in 2021 hervat is.
Teen die einde van 2022 het sy die “Beste Assistent Skeidsregter” en “Rookie of the Year”-toekennings ontvang by die Puma Unie. In 2023 is sy bekroon met die toekenning vir Beste Vordering in die tweede liga. In haar matriekjaar het dinge regtig begin gebeur: sy was skeidsregter en lynregter by die 41ste Amajuba Sportsweek, en later by die nasionale o.16 en o.18 meisiesrugbyweek by Jeppe Boys’ High. Die hoogtepunt van haar jaar was op 13 Julie 2024, toe sy geskiedenis gemaak het as die eerste 17-jarige wat ’n Eerste Divisie Curriebeker-wedstryd vir vroue hanteer het – tussen die Pumas en die SWD Eagles – by Hoërskool Patriot in Emalahleni.
Volgens haar mentor, het Nalizeri van graad 7 af ’n ongelooflike toewyding tot die sport getoon. “Sy het my gevra wat dit behels, en ek het haar verwys na Aimee-Barrett Theron. Sy het nie teruggestaan nie,” sê hy trots. Nalizeri het selfs al saamgewerk met gesoute skeidsregters soos Angelique Bezuidenhout, Giana Viljoen en Lettie Coetzee van SA Rugby. “Lettie is kwaai,” het Nalizeri met ’n lag gesê, maar haar respek vir dié mentor is duidelik.
Haar fiksheid en eksamens speel ’n sleutelrol in haar vordering. Sy behaal gereeld van die beste uitslae in haar skeidsregterstoetse. Dit het daartoe gelei dat Yantolo Banks van SA Rugby Referees haar genooi het om by die meisies Cravenweek in Johannesburg op te tree. Sy het daar onder leiding van Eugene Daniels en ander senior lede van SARRA waardevolle ervaring opgedoen.
Vandag is sy steeds aktief in plaaslike skole- en klubrugby. Sy het onder andere ook deelgeneem aan die Danie Rossouw-week, Reef 10s, Makwonja 7s, en Jimmy Stonehouse 10s. Selfs wanneer sy mansklubwedstryde hanteer, ontvang sy slegs respek van die spelers en hul bestuur.
Nalizeri se ouers, Pieter en Elana, is haar getroue ondersteueners en sê hulle is ongelooflik trots op haar. “Sy toon deursettingsvermoë en laat nie toe dat negatiewe kommentaar vanaf die kantlyn haar keer nie. Sy jaag haar droom met oorgawe na.” Vir Nalizeri is elke wedstryd ’n nuwe uitdaging. “Ek probeer elke keer om dit so veilig en regverdig as moontlik te blaas.” Haar droom? Om eendag die eerste juffrou te word wat ’n wêreldbekerfinaal hanteer. Nelizeri is tans ‘n assistent onderwyser by Laerskool Barberton en besig met haar onderswysstudies.