Bontebokke vind uit die gras is nie altyd groener anderkant van die draad nie
Die O/13’s het die spelers van Bontebok Primêr gewys dat selfs een wortel, daar waar Dawid hom begrawe het, ’n verskil kan maak toe hulle die besoekers aan die kortste end laat trek het met 27–26.

Keanthan Witbooi was beslis Man of the Match toe hy stof in die Swellendammers se oë geskop het met die twee drieë wat hy gedruk het. David Davids, Kaya Khanzi en Adriano Newman se voete het ook behoorlik vlamgevat en hulle het elk gesorg vir ’n drie.
Volgens dié span se afrigter, Kevin April, wat ook sportkoördineerder van die skool is, is hy supertrots op die jongelinge met hul flinke spel.
Die O/9’s was goed op dreef, maar kon net-net nie die knoop deurhaak nie en die eindtelling was 10–25.
Rivier se O/11’s het die Bontebokke goed op hul herrie gegee met ’n 5–0 wen toe Lamar Witbooi die drie netjies onder die pale geplant het tydens die eerste van twee wedstryde. Hul tweede wedstryd het presies dieselfde punte opgelewer, maar in guns van die Bontebokke.

Hierdie joernalis wil nou nie tegnies raak of hare kloof nie, maar die kwas van regverdigheid kan soms nogals goed te pas kom. Wanneer ’n mens in ag neem dat die opposisie ’n A- en B-span gebring het – almal vars spelers – en dat Rivier se O/11-seuns twee maal moes speel met dieselfde spelers, wil dit my voorkom dat die tweede wedstryd eintlik geensins as ’n verloor gesien behoort te word nie. Dit dui juis daarop dat die Rivier-spelers rateltaai is.