Linda de Bruyn, saam met haar man Egbert wat net so aktief by sportaktiwiteite betrokke is.

Barberton se sportster Linda de Bruyn bewys dat toewyding beloon word

Posted in De Kaap Echo by Lynette Spencer on 16 April, 2025 at 3:33 p.m.
Linda de Bruyn (59) van Barberton is geen onbekende naam in sportkringe nie. Van jongs af het sy 'n liefde vir sport ontwikkel wat haar van atletiek- en karatebaan tot op die fiets se saal, en later weer terug na die hardloopbaan geneem het. Vandag, dekades later, maak sy steeds haar tuisdorp trots met prestasies wat wys dat ouderdom net 'n nommer is.

Linda het haar sportloopbaan reeds in laerskool begin, waar sy aan atletiek en karate deelgeneem het. In hoërskool het sy aanhou presteer op die atletiekveld, maar dit was eers ná matriek dat haar liefde vir fietsry haar nuwe rigting gegee het. In 1996 het sy by die Jock Fietsryklub in Barberton aangesluit en vanaf 1999 het sy ook op die klub se komitee gedien. Met haar ywer en vasberadenheid het sy aan sommige van Suid-Afrika se bekendste wedrenne deelgeneem, insluitend die Argus, Ride for Sight, The Fast One, Kremetart en die Mpumalanga Toer. Haar harde werk is beloon met Mpumalanga kleure en die eer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir fietsry deel te neem.

In 2000 het Linda haar hardloopskoene aangetrek en by die Barberton Atletiekklub aangesluit. Hier het sy 'n mylpaal bereik deur as die eerste vrou van Barberton die Comrades-marathon suksesvol te voltooi. Die prestasie het haar nie net plaaslike roem besorg nie, maar ook die titel van Sportvrou van die Jaar, toegeken deur ABSA Bank. Hierna het Linda aan 'n verskeidenheid maratonne van 42 km deelgeneem, waaronder die Kaapsehoop-marathon, Elands-marathon en Barberton se eie Jock-marathon. Ook halfmaratonne soos Salati en Skukuza in die Krugerwildtuin is met entoesiasme aangepak. Deesdae spits sy haar toe op 10 km-wedlope.

In 2016 het Linda 'n nuwe uitdaging aangepak toe sy begin deelneem het aan veldwedlope. Haar toewyding het nie ongesiens verbygegaan nie en sy het weer Mpumalanga kleure verwerf en haar provinsie by verskeie Suid-Afrikaanse kampioenskappe verteenwoordig. In 2021 het haar afrigter, Charl Naudé, voorgestel dat sy haar hand aan baanatletiek waag. Al was sy aanvanklik skepties, het Linda gou die nuwe dissipline omarm. Twee jaar later het sy al verskeie medaljes ingepalm.

Tydens die Gauteng-Noord Meesters Kampioenskappe in Maart 2025, het sy vier silwermedaljes gewen in die 5000m, 1500m, 2000m “steeplechase”-wedloop en 400m. Net 'n maand later het sy by die Sentraal Gauteng Meesters Kampioenskappe in Germiston drie goue medaljes verower vir die 1500m, 2000m, 2000m “steeplechase” en 400m. Haar volgende groot uitdaging lê voor wanneer sy van 1 tot 3 Mei 2025 haar provinsie by die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe in Oudtshoorn sal verteenwoordig.

Linda se verhaal is nie net een van medaljes en uitslae nie, maar van vasberadenheid, 'n liefde vir sport en 'n lewenslange verbintenis tot selfverbetering. Barberton hou haar dop met trots en weet dat haar storie steeds besig is om geskryf te word.

 

 

The wandering artist who left his mark on Barberton

His wandering spirit eventually led him to Barberton, a town rich with the dust of the gold rush.
Lynette Spencer

From sunsets to soaring owls, her lens finds the magic in Barberton

“I still don’t think I’m good enough. But people seem to enjoy what I share, and that means a lot.”
Lynette Spencer

Meet PJ Ntimane: SA's rising star in junior athletics

Hailing from Barberton, this promising distance runner is making waves on the national athletics scene.
Lynette Spencer

The legend of Cockney Liz

Some locals swear she had a hand in settling disputes, brokering friendships, and occasionally stirring the pot herself.
Lynette Spencer