Die beloofde land het sy gat gesien
(Neem kennis: Hierdie is ‘n redakteursrubriek. Dit is ‘n ruimte waar persoonlike perspektief / opinies gedeel word. Dit is nie ‘n nuusberig nie; dit is mening, soms ontleding, en soms frustrasie, gegrond op waarneming, ervaring en insig. Soms is daar opgemaakte woorde, aspris verkeerd gespel, en dikwels ‘n vloekwoord of drie, want party dinge kan nie met ‘n 'liewe land' en ‘n 'sjoe' beskryf word nie. Lees met ‘n oop gemoed. Of nie.)
Douvoordag reeds kom lê die herinnering aan ‘n lang vergete geskribbel van my bo-oor die hede. Soos dikwels die geval in die landskap van my (meestal) ooraktiewe brein, laat los dit my nie. Dit maal nou al meer as ‘n week deur my – dit nadat President Cyril Ramaphosa op Donderdag, 6 Februarie die staatsrede (SoNA) gelewer het, maar veral omdat ek na die tyd gaan grawe het, gaan lees het op die offisiële SoNA-goewerment-blad.
“We have made significant progress in improving the quality of life for South Africans over the past 30 years.”
Vandag gaan ek nie fokus op Ramaphosa se planne vir ekonomiese groei in Suid-Afrika nie. Ek gaan nie saam dans oor die beloofde werkskepping nie. ‘n Mens hoef waaragtig nie met die helm gebore te wees om teen dié tyd al te weet dat hierdie berg, soos in die verlede, ‘n muis gaan baar nie.
Vandag wil ek nie skryf oor al die goeie goed van 30 jaar nie. Baie dinge is baie goed, al was dit hopeloos te laat vir vele. Ons weet dit immers. Ons is verheug daaroor – oor die lelike wat ons almal agtergelaat het – oor die goeie dinge wat mense se hoeke sagter gemaak het. Ek sal op ‘n ander dag daaroor skryf.
Vandag is ek Mara. My pen is galbitter. Die ink het geword ‘n adders-kus – oopbek en tong-gee sleep dit oor die blaaie.
Die onthou: Iewers op ‘n kol het ek in my redakteurskolom, by die koerant, my misnoeë uitgespreek oor die aanstelling van die nuwe burgemeester van die dorp. Ek het hom mooi gevra, “Sir, please step down.”
‘n Carl Gustav Jung aanhaling was deel van daardie skrywe. Die les in die aanhaling het ek nie vergeet nie, dit het iets te doen gehad met morele waardes, maar al wat ek vanoggend verbatim kon onthou, was: “There is something not right”. Natuurlik het ek onmiddellik gaan soek na die res van Jung se insigte oor die menslike gewete en moraliteit – en soos tydens my skrywe by die koerant, werp dit vandag weereens ‘n helder lig op die massiewe (skynbaar onophoudelike) mislukking van leierskap in Suid-Afrika.
Jung se deuntjie lui: “Deep down, below the surface of the average man's conscience, he hears a voice whispering, ‘There is something not right,’ no matter how much his rightness is supported by public opinion...”
Wanneer ek na ons leiers kyk, is dit duidelik dat hierdie innerlike stem - die vermoë om jou eie foute, korrupsie en morele verval te erken - afwesig is. Dikwels in totaliteit.
Deesdae preek elke tweede pod-uitsending (ek het ‘n broertjie dood aan die term potgooi) oor self-awareness. Elke Jan Rap en sy hand-ommie-blaas maat gil dit ten hemele vanaf soveel as moontlik platforms. Baie van hierdie makkers se breine het nog nie eens die hele groeiproses ondergaan nie. “The brain is not considered fully developed until your mid-to-late 20s. That's because the prefrontal cortex, responsible for planning, prioritizing, and impulse control, is one of the final regions of the organ to mature.” Maar dit wil potte gooi en skree.
Ek is op die vooraand van 55. Teen die tyd is my brein al twee maal verby die 25-merk. Dit opsigself sê seker nie veel nie, want daar is dié onder ons wat al drie regmerkies op hul kerfstok het, en steeds geen selfbewustheid het nie. Self vleg ek nie tone met diesulkes nie.
Terug na Jung en die innerlike stem.
Selfbewustheid (self-awareness) verg refleksie. Dit vra dat jy gaan grawe in jou binnekant, maar meer as dit, dat jy jou buitekant moet aanpas. Hierdie sogenaamde leiers van ons het nou waaragtig, keer op keer, bewys dat hulle nie tot enige introspeksie in staat is nie. Hul morele kompas is nie net gebreek nie; dit bestaan eenvoudig nie. In plaas daarvan om te erken wanneer hulle die land skade aandoen, hou hulle aan met selfverryking terwyl miljoene mense ly.
Soos die grillerige Siembamba-liedjie, het die leiers se onbeperkte arrogansie groot dele van hierdie pragtige land in sy moer in. Nek omgedraai. In die sloot gegooi. Morsdood getrap. Koppie af. Hulle bly hul dade regverdig, en dit terwyl die hele reënboognasie deur die ore gespyker word, dag na dag, want ‘gebuk gaan onder’ is lankal van die tafel af. Het ons maar 'gebuk gegaan' kon mens nog iets aan die situasie verander, maar ons lê. En meer as dit, ons bly lê. En die bliksems trap. Wit, bruin, swart – ons almal krepeer.
Ons spartel en verstik aan die misdaad, en baie sink al dieper weg in armoede en verdriet. Sommiges van ons het darem nog, soortvan, kinda, ons selfbewustheid in plek. Ons kan steeds die gevoelingtes voel van “There is something not right,”. Dit sonder dat ons enige prentjies hoef te sien of enige regverdigings hoef aan te hoor. Die verkose spotters, egter, het hulself lankal doodgemaak vir enige vorm van innerlike fluistering.
Aangesien ek nou reeds op die Jung-waentjie geklim het, laat ek nou maar ordentlik saamry. Hy het ook geskryf: “No tree, it is said, can grow to heaven unless its roots reach down to hell.” (Soos ek dit lees het hy dié iewers te hore gekom, moontlik by hulle, na aanleiding van “it is said”.)
Dit is debatteerbaar, soos alles, maar ek het nog altyd geglo dat, wanneer jy selfbewus is, jy waaragtige groei toon, en verál wanneer jy iewers op jou pad in die vuur was en genadiglik anderkant uitgekom het. Dat jy met so ‘n stukkie verligting geseën word – of enlightenment - vir die wat gereeld na pod-uitsendings luister.
Ware groei (en verligting) vereis dat jy as mens jou eie duisternis in die gesig staar, maar wat gebeur wanneer jy geen selfbewustheid het nie, wanneer daai wortels waarvan Jung praat in die hel bly? Geen opwaartse groei gaan tog moontlik wees nie, geen uitreik na hoër ideale nie?
En dis presies waar die knoop sit. Die insittendes van die parlimint se idee van groei is niks meer as gierigheid, bedrog en selfbelang nie en Suid-Afrika, wat eens ‘n land van belofte was, ‘n nasie ryk aan hulpbronne, skoonheid en potensiaal, is só vernietig dat dit vertoon soos die lappop op haar ashoop – vuil en desperaat. Steeds sien hierdie oppermeesters nie hul eie maaksels raak nie. Hulle het hulself nie net in die dieptes van morele korrupsie geplant nie. Hulle het daarin vasgegroei. Alle wortels is in die hel in. Daar is geen skaduwee – geen tak en geen blaar. Kanaän is des moers en hulle gedy in die chaos wat hulle vir die res van ons geskep het – onaantasbaar.