Jong onderwyser blink uit ondanks uitdagings

Posted in News by Anchen Coetzee on 25 May, 2018 at 4:10 p.m.

BARBERTON - Reenen Louw (25) is ‘n jong onderwyser van Barberton, en volgens sy ma, Lynette Spencer, bars haar hart van trots. Sy sê Reenen “leef, eet, drink en praat” van kleins af nét krieket.

Twee jaar gelede het hy een van sy doelwitte bereik toe hy skeidsregter geword en vir Titans Mpumalanga begin staan het. ‘n Jaar later is hy aangewys as “rookie umpire” van die jaar vir Ehlanzeni en Mpumalanga. “Dit het as ‘n groot verrassing gekom, want ek het dit geensins verwag nie,” sê Reenen. Verlede week, egter, het hierdie jongman tydens die Mpumalanga Krieket-unie se jaarlikse toekenningseremonie in Witbank, met drie trofeë weggestap. Dit was vir Mpumalanga Skeidsregter van die Jaar, Ehlanzeni Skeidsregter van die Jaar, asook die Ehlanzeni-trofee vir die skeidsregter wat die meeste wedstryde in die seisoen hanteer het.

Africa InTouch News het Woensdag by Laerskool Barberton met Reenen gesels. Begeesterd oor sy krieketloopbaan vorentoe is hy beslis, maar daar is ‘n kalm elegansie aan sy manier van praat - so asof hy al die tyd in die wêreld het – wat geensins die geval is nie. Afgesien van skoolgee en sy lyf skeidsregter hou, skryf hy oor ‘n maand sy laaste UNISA-eksamen vir sy B.Ed-graad.

Reenen is op ‘n jong ouderdom met serebrale gestremdheid gediagnoseer. Vanaf die ouderdom van agt jaar tot 16 is hy jaarliks geopereer, maar vir hom, en almal in sy lewe, is dit so goed soos ‘n geboortevlek op sy voetsool, want die jongman wat voor my gesit het, is beslis nie gestremd nie. Ja, dit het harde werk geverg, vertel hy, “maar ek het myself nog nooit as gestremd gesien nie, dus is dit iets waaroor ek nie eens dink nie. Alles is ‘n mindset en indien jy jouself nie as gestremd beskou nie, is die kanse goed dat niemand anders ook sal nie.”

Dit is duidelik dat sy ouers, beide onderwysers, geen steen onaangeroer gelaat het om hom op sy pad na sukses te ondersteun nie. Sy pa, Marius Louw, is boonop ook ‘n krieket-entoesias en, volgens Reenen, is dit “great om hierdie passie van my met hom te kan deel”.

“Ek is baie trots op wat hy bereik het. Hy is geweldig entoesiasties oor krieket en werk baie hard,” sê Marius.

Barberton het besonder goed in die toekenningsgeleentheid gevaar. Romann Loubser, ook ‘n onderwyser by Laerskool Barberton, is aangewys as die Ehlanzeni-rookie van die Jaar.

Anchen Coetzee vir Ama'Zone Media Solutions h/a Africa InTouch News
Subredakteur: Lynette Brink

Solidariteit Beweging stel digitale kultuurtuiste bekend vir Afrikaners oraloor

“Ons wil Afrikaners help om hul taal, tradisies en waardes lewendig te hou."
Pieter Jordaan

iOlogue Media's new publication flips the script on markets and tech

The content is aimed at younger adults, but also resonates with anyone looking for a break from clickbait material.
Charlotte Hayes

Solidariteit verwelkom VSA-verslag oor plaasaanvalle

Die aankondiging dat die VSA die brutaliteit van plaasaanvalle erken word ten sterkste deur Solidariteit verwelkom.
Pieter Jordaan

Mitchell's Plain police seize firearms during gang patrol

A 28-year-old man was arrested and is facing charges related to the illegal possession of prohibited firearms and ammunition.
Anchen Coetzee