Gesin se voertuie blitsig teruggevind na plaasaanval
MBOMBELA - ‘n Gesin woonagtig te Schagen net buite die stad, was die slagoffers van ‘n plaasaanval in die vroeë oggendure. Die insident het omstreeks 02:00 plaasgevind. Volgens Barend Pienaar van Oor Grense Media, het drie verdagtes, waarvan een gewapen was en twee balaklava’s gedra het op die woning toegeslaan. Volgens inligting was die twee gemaskerde mans rustig, maar gewapende een het senuweeagtig opgetree.
“Me. Anke Swart het die gesin se honde die huis ingeroep toe sy aangeval is. Sy het weerstand gebied en tydens die daaropvolgende struweling gesigsbeserings opgedoen. Haar eggenoot, Justin, en die egpaar se kinders het ongedeerd van die voorval afgekom,” het Pienaar gesê.
Die rowers het in die gesin se Volkswagen Taureng en Toyota Hi-Ace op die vlug geslaan. Beide voertuie is intussen deur Tracker, in samewerking met die blitspatrollie, in Masoi opgespoor.
Die voertuie is tans by SAPD Forensies.
Subredakteur: Lynette Brink