Brief aan my jonger self
Ek het nou so lekker briewe geskryf , oop en toe, dat ek besluit het dis dalk tyd dat ek bietjie inkeer en vir myself ook ‘n briefie skryf. Hier is dit - sonder seremonie en sonder tierlantyne.
Liefste ek-in-progress,
Ek weet nou met retrospect dat jy bang en onseker is. Jy hou jouself cheeky en selfvoldaan, maar ek weet jy is verward oor wat mag en nie mag nie. Jy wil so graag aanvaar word en jy loop op eiers om dit wat in jou kop is op dieselfde bladsy te kry as dit wat in die wêreld is. Vir ‘n verandering praat ek nie slegs oor jou verwarring rondom jou seksualitiet nie, dit inkluis, maar ek praat sommer oor alles.
Jy besef dit alreeds, maar die samelewing waarin jy leef is baie klein, baie eng en baie uitgesproke oor regulasies. Daar is reëls wat nie vir jou sin maak nie. Daar is begeertes wat jy nie kan onderdruk nie. Daar’s vrae wat niemand wil antwoord nie.
Wat ek vandag weet (en dis nog nie naastenby al my vrae beantwoord nie - inteendeel elke antwoord bring nuwe vrae) is dat ek baie hard gesoek het na mense wat die vrae vir my kan beantwoord. Ek het in gesprekke met vriende die onderwerpe versigtig aangeroer. Elke reaksie het ek gelees en probeer interpreteer en meestal gevind dat die kampie vir elke onderwerp maar redelik klein is.
Ek het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die wêreld regtig so eng is en ek moet vir my eie beswil binne die afgespande area bly. Min het ek toe geweet dat daardie mense met wie ek gepraat het self versigtig hulle vrae in gesprekke ingebring het en eintlik niks meer as ek geweet het nie. Die gevolg was dat ons in ons onskuld en vrees eintlik onsself toegekamp het in ‘n baie klein kraaltjie met min ruimte vir groei.
So het ons - ek en jy, jy wat besig is om ek te word - saam gewei in ons klein kampie. Nou en dan kyk ons oor die drade wat ons self daar gespan het en wonder hoe dit lyk aan die ander kant. Soms dink ons om oor te spring en te gaan kyk, maar dan spring ‘n ander ou oor en jy hoor hoe gons die kamp met veroordelings en opinies. Dis dan wanneer jy maar weer jou kop laag hou en vreet aan diesefde gras.
Heelwat later sou die besef eers by ons posvat dat daai ouens wat oorgespring het net gewone mense is. Hulle vreet nou aan die ander kant en niks weerlig het gekom en hulle getref nie. Geen runderpes het oor hulle uitgebreek en vrektes gebring nie. Hulle vreet rustig hulle grassies en hulle lééf.
So leer jy stelselmatig wat die verskil is tussen hulle en ons in die kampie – ons is bang. Dis al. Ons word net hier gehou deur een ding en dit is vrees. Vrees vir verandering, vrees vir die vreemde, vrees vir veroordeling en vrees om uit te vind wie en wat ons is. Die vrees maak ons sielsongelukkig, want wat wil mens tog meer in die lewe hê as om te weet wie jy is, te wéés wie jy is en dan aanvaar en liefgehê te word vir wie jy is?
Later het ons nie meer saamgegons as iemand oor die heinings spring nie. Ander het ook agtergekom ons kyk so bietjie te vêr oor die heining. Ons wei alewig op die randakker en begin vriende raak met diegene aan die ander kant. Ons is ook nie alleen op die randakker nie. Daar’s ‘n hele paar van ons wat wonder en leep-oog staar na wat alles 'daar buite' kan wees. Dáár vind jy dan jou nuwe tribe, jy begin weer versigtig praat oor die onderwerpe wat jy probeer vergeet het, die keer kry jy ander reaksies, nie noodwendig antwoorde nie, maar ander opinies. Die wêreld se grense is nou effens wyer.
Liewe jonger self, in hierdie tye kom die veroordeling alreeds. Mense hou nie daarvan as jou wêreld wyer is nie. Dis die vreemdste ding, want in gesprekke met hulle kan jy weer op jou beurt vir hulle ander opinies gee maar hulle wil dit nie hoor nie. Op die rype ouderdom van 40, is dit nog steeds vir my die grootste raaisel. Hoekom sou mense nie wil hoor hoeveel meer liefde en wonder daar in die wêreld is nie? Ons nietige mensies hier op aarde weet nie regtig veel nie en in alles wat ons reeds vermag en ontdek het, bly die liefde vir ons die wonderlikste en raaiselagtigste ding. Maar as mens dan vir ander vertel hoeveel meer moontlikhede en kapasiteit daar bestaan vir hierdie een einskap wat ons verhef, dan wil hulle dit vir een of ander rede nie hoor nie.
Jonger self, basta met hulle! Dit het jou lank gevat om uiteindelik te besluit om te spring, om jou mantel van vrees af te skud en self die wondere te gaan ontdek. Ek veroordeel jou nie dat dit lank gevat het nie, ek is trots op jou, ek is trots op my. Soms wens ek dat ek vroeër gespring het, maar meestal is ek net tevrede dat ek nog kon spring en dat my wêreld steed wyer word en dat ek dalk, met liefde, vir ‘n ander kan wys hoeveel wonderlike mense en dinge daar nog is om te ontdek.
Om af te sluit, hier’s my belangrikste brokkie raad: As jy ‘n wese sien wat lyk of hulle jou naastenby probeer namaak; ‘n kop, ‘n lyf, twee arms en twee bene - (dankie Ingrid Jonker vir die visual) selfs al is daar ‘n paar van daardie dele missing, of dit werk anders of die wese is ‘n ander grootte, ander kleur, praat anders, dink anders, leef anders, glo anders… onthou net dat dit heel moontlik ook ‘n mens is soos jy, een wat net so hard soos jy probeer om uit te figure hoe om te 'mens'. Dis ‘n mens met foute, nes jy. ‘n Mens met wense, nes jy. ‘n Mens met dieselfde kapasiteit om lief te hê as jy en met die kapasiteit om te haat… nes jy.
Liefde,
Jou ouer self.
Gesels met Han van Staal op Facebook