Kompetisie se eerste wenners word bekendgemaak
Suid-Afrikaners het gesing, gedans, gedig, gespog en hul passie, liefde en oortuiging gedeel en gewys hoe lyk hulle Afrikaans. Meer as 800 mense het oor die afgelope drie maande van oraloor deelgeneem aan die ‘Hoe lyk jou Afrikaans?’-kompetisie en gestem dat dit klap! Amper twintig duisend stemme is uitgebring vir die inskrywings in drie kategorieë. Vir deelnemers was hierdie duidelik ’n hartsaak en beoordelaars moes behoorlik kopkrap om die wenners aan te wys. Wenners ontvang elk R2 000 en dring deur tot die finale ronde vir die groot prys van R10 000!
Die wenner in die teksinskrywingkategorie het meer as 10 500 stemme ontvang. Die 32-jarige Albert Oberholzer van Plettenbergbaai neem ons terug na die skoolbanke tot in Nataniël se ouma se kombuis. Sy hoendervleisbeskrywing roer: “Die son val oor die skoolbanke en die klas is stil. Oupoot lei ons in kringe deur die Knysna bos soos Juffrou Fuller die boek woord vir woord voorhou. Daar waar ons sit, skilder en skep Dalene Matthee die bos, die bome, die bloubokkie en die lewe van die mense in die stem van 'n vrou met 'n liefde vir haar beroep en taal.”
Lees sy inskrywing hier: Hoe lyk my Afrikaans? ... So!
Die wenner in die video/klankopnamekategorie is Nicolene van der Walt (31). Haar passievolle liefde vir Afrikaans is die musiek van haar hart en Afrikaans betower haar akkoorde. In haar woorde: “Musiek en Afrikaans verbind almal soos een taal. Dit is my hart se taal.”
Nicolene het net-net duskant 100 stemme ontvang.
Kyk haar video hier: Afrikaans is soos my musiek
Die wenner van die fotokategorie is Leana Wentzel (53) ... Die eenvoud en trefkrag en raakvatbeskrywing maak hierdie foto die wenner. Leana het meer as 2 600 stemme ontvang!
Hier is die wenfoto: My Afrikaans is rotsvas
Daar was talle ander inskrywings wat uitgestaan het en party het verrassingspryse ontvang.
Gaan kyk gerus op Afrikaans.com vir hierdie en die heel beste van die reste.
Ingestuur deur: Ingrid Erlank / Redakteur / Afrikaans.com