Eggenoot van Vleis Visagie praat uit haar hart by KANSA Noenmaal
Saterdagoggend het die gasspreker by Barberton se jaarlikse KANSA Noenmaal, Frieda Visagie, hartstrane uit menige oë laat vloei. Frieda, eggenoot van die voormalige rugbyspeler Vleis Visagie, het hulle verhaal gedeel – ‘n verhaal van die pad wat sy en haar man gestap het om tot by die punt van ware bevryding te kom.
Twaalf jaar gelede, in die vroeë oggendure, het Frieda haar man wakker gemaak nadat sy ‘n geraas buite by die voertuie gehoor het. Die egpaar het vermoed dat iemand besig was om ‘n voertuig te probeer steel. Die skoot wat Vleis afgevuur het om die booswig te waarsku, het hul dogter, Marlé, noodlottig gewond.
Frieda het vertel hoe sy, na vele beproewinge en menslike emosies wat haar siel gebroke gelaat het, haar sak vol weemoed by God se voete gaan lê het en hoe dit haar redding was.
Frieda Visagie sing 'n roerende gebed.
Nie net het haar verhaal diep geruk en diep geraak aan elkeen teenwoordig nie, maar haar engelstem het almal in vervoering gehad toe sy drie pragtige liedere gesing het.
Hier sing Frieda die immergewilde treffer 'Some Say Love'.
Christelle Strauss, voorsitter van KANSA Barberton het Frieda in besonder bedank vir haar tyd en die deel van haar lewensverhaal.
Strauss het ook die NG-Kerk, asook elke gasvrou wat die dag moontlik gemaak het, bedank vir hul onbaatsugtige en volgehoue ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank is ook aan Ivy Smith, Strauss se regterhand tydens die noenmaal, oorgedra.
Voorsitter van KANSA Barberton, Christelle Strauss, gesels oor die dag en die eregas.
Goeie nuus wat sy meegedeel het was dat KANSA-hoofkantoor, alhoewel hulle steeds Barberton se fondse administreer, van nou af alle insamelings vanuit hierdie gemeenskap beskikbaar sal stel vir Barberton se kanker-pasiente.
Lynette Rautenbach en Elsie Eksteen.
Annette van Rensburg wat 'n pragtige kwilt gemaak en aan KANSA geskenk het. Die lootjies wat verkoop is vir die kwilt het gegaan vir hul fondsinsameling.
Die tema, Toeka tot Nou, het gefokus op die behandeling van kanker deur die eeue – van 3000 VC toe kanker ‘n doodstraf was tot vandag waar, indien dit vroeg genoeg gediagnoseer kan word, genesing binne die bereik van elke kankerlyer is. Die klem is veral gelê op gereelde ondersoeke.
Na ‘n heerlike noenmaal is daar kersies aangesteek ter herrinering aan diegene wat die stryd teen kanker verloor het.
Indien jy betrokke wil raak as vrywilliger by KANSA Barberton, kontak Christelle Straus by 083-655-4289.
Geskryf deur: Anchen Coetzee vir Ama'Zone Media Solutions h/a Africa InTouch
Sub Redakteur: Lynette Brink