Solidariteit wen saak oor vals klagte van rassisme
Solidariteit het vandag ʼn oorwinning teen vals klagte van rassisme wat in die werkplek gemaak word, behaal. Dit volg nadat een van Solidariteit se lede wat by die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling werksaam is in 2019 onregmatig sonder betaling geskors is nadat vals klagte van rassisme teen haar ingebring is.
“Ons verwelkom natuurlik die bevinding deur die kommissaris wat tydens die verhoor in die Algemene Sektorale Bedingingsraad vir die Staatsdiens (ASBRSD) aangedui het dat daar onvoldoende of geen gegewens is om enige van die aanklagte wat teen ons lid ingebring is, te ondersteun nie. Ons veroordeel die skynbaar toenemende tendens van vals bewerings van rassisme wat in die werkplek gemaak word egter ten sterkste. Dit het verwoestende gevolge vir diegene oor wie sulke leuens versprei word. Dit kan nie geduld word nie,” sê Mariesa Janse van Rensburg, Solidariteit se litigant wat die aangeleentheid hanteer het.
Solidariteit meen dat totdat diegene wat valse bewerings maak nie aan die pen ry nie, sulke skadelike gedrag egter nooit ten volle bekamp sal kan word nie.
“Dit is verregaande dat werknemers toegelaat word om klagte wat blatant vals is teen hul kollegas in te bring sonder dat dit enige gevolge vir hulle persoonlik inhou. Dit is nog meer kommerwekkend dat werkgewers ook nie gestraf word vir hul wanbestuur van sulke situasies nie. As daar nie stappe gedoen word om hierdie gedrag te ontmoedig nie, sal dit bloot net voortduur. Intussen sal ons aanhou veg vir ons lede wat ongelukkig té gereeld slagoffers van hierdie gedrag is,” sluit Janse van Rensburg af.
Redakteur: Anchen Coetzee / Africa InTouch News
Ingedien deur: Solidariteit Media