Dorp se barbare loop nou op dun ys!
Johan Bronkhorst, besigheidsbestuurder by Obaro Barberton, het nou net mooi genoeg gehad van die vandale en barbare wat onlangs vir die tweede maal op dié besigheidsperseel chaos veroorsaak het.
Tydens ‘n byeenkoms wat saamgeroep is deur die jaagduiwels van die dorp, het sake totaal hande uitgeruk en hierdie massa mense het by Obaro se perseel opgeëindig. Daar het hulle gekattermaai en amok gemaak tot vroeg in die oggendure. Die gevolg was dat menig winsgewende besigheidsure van Obaro verlore gegaan het, aangesien die personeel self die gemors moes opruim, die mure waarteen geürineer is moes skoon kry en selfs bloed van die rybaan moes afwas.
“Die ergste is dat ek uit my pad gegaan het om die organiseerder, ene “Seun”, te akkommodeer, en nou dat die kwessie van skadevergoeding aangespreek word, wil dit voorkom asof hy my vermy,” het Bronkhorst gesê.
Volgens hom is hierdie toedrag van sake nie net uniek aan Obaro nie, maar ‘n algemene verskynsel in die res van die dorp.
Africa InTouch News het met Bronkhorst, asook met die stasiebevelvoerder van Barberton SAPD, Kol Johan Engelbrecht, oor die aangeleentheid gepraat.
Johan Bronkhorts, besigheidsbestuurder by Obaro.
Kol Johan Engelbrecht, stasiebevelvoerder van SAPD Barberton.
Geskryf deur: Anchen Coetzee vir Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch News
Subredakteur: Lynette Brink