Poging tot kontant-in-transito-rooftog op R38 onsuksesvol
‘n G4S Cash Solutions sekuriteitswag is vanmiddag in die voet geskiet tydens ‘n poging tot ‘n kontant-in-transito-rooftog op die R38.
Die insident, wat omstreeks 17:42 in die omgewing van die Premier van Mpumalanga, David Mabuza, se woning plaasgevind het, het misluk. Volgens Hi-Tech offisier Rynardt Deysel, was ‘n G4S Cash Solutions voertuig oppad in die rigting van Barberton toe ‘n onbekende hoeveelheid verdagtes in ‘n swart voertuig, vermoedelik ‘n BMW X5 en ‘n wit voertuig, vermoedelik ‘n Range Rover, op hulle begin skiet het.
Deysel sê 'n jaagtog het gevolg, maar die boewe het weggejaag toe die premier se huis in sig kom. "Dit het klaarblyklik te doen met ‘n polisievoertuig wat gewoonlik by die woning van die premier afstaan en wat hulle dalk skrik op die lyf gejaag het,"
Die sekuriteitswag van G4S, wat in die voet gewond is, is deur medici op die toneel behandel voor hy per ambulans vervoer is na Medi-Clinic Nelspruit.
Volgens ooggetuies lees ‘n gedeelte van die Range Rover se registrasie nommer as volg: FK 68 DF GP.
Van die koeëlgate op die G4S bussie is waarskynlik veroorsaak deur onder andere ‘n AK-47 geweer.
Ten tyde van hierdie artikel was geen bevestiging rondom die verdagtes se voertuie deurgegee nie.