Behaal sukses deur moedertaalonderrig

Posted in Education by Ingrid Erlank on 16 February, 2018 at 1:59 p.m.

Internasionale Moedertaaldag word op 21 Februarie gevier. Daarom word Februarie gewy aan 'n grootskaalse bewusmakingsveldtog om mense in te lig oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en opnuut te beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons kinders in hul moedertaal skoolgaan.

Omdat dit vir ons almal 'n saak van erns is om alle moedertale te sien groei en gedy, het Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, FEDSAS, VivA en Helpende Hand saamgespan om inligting saam te stel wat die boodskap doeltreffend en duidelik oordra en om seker te maak dat almal die voordele van moedertaalonderrig sal besef sodat ouers ingeligte besluite sal neem wanneer hulle kinders moet skool toe gaan.

Hierdie nuttige inligting is nou alles op een plek op Afrikaans.com se webtuiste:

• Ons besweer die talle mites oor moedertaalonderrig en bemagtig jou met feite.
• Ons gee jou toegang tot die nuutste navorsing.
• Ons gee jou raad en ondersteuning sodat jy kan seker maak jy rus jou kind toe om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel om eendag suksesvol te wees.

Daar is ook talle artikels op die webtuiste wat moedertaalonderrig ondersoek. Gaan kyk hier.

Ons eie gemeenskapsradioprogram, Afrikaans Aktueel, fokus ook elke week op ons moedertaalboodskappe en die programme is aflaaibaar op ons webtuiste. Luister hier na dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad wat mites met feite bestry.

Conrad Steenkamp sê ook dat moedertaalonderrig dié manier is waarop veral armer gemeenskappe bevoordeel kan word. "Afrikaanse moedertaalonderrig bied kinders die héél beste kans om goed te doen en om as sterk meertaliges ook goeie beroepsgeleenthede te kry. Hoe meer tale kinders onder die knie het, hoe meer geleenthede het hulle. Dié ouers wat Engels pleks van Afrikaans in die familie gebruik, doen hulle kinders 'n groot onreg aan. Mens wil wel hê dat kinders Engels moet bemeester – maar deur Afrikaans. Dis die beste resep vir 'n kind se toekoms."

Dit gaan egter oor baie meer as taal. "Ouers wil graag die beste geleenthede vir hulle kinders hê en moedertaalonderrig is een van die beste maniere om ons kinders vir die toekoms toe te rus. Daarom maak die ATKV erns met veldtogte wat die waarde van moedertaalonderrig steun en het ons met die #MyTaal-veldtog by ons vennote aangesluit om die boodskap van sukses deur moedertaalonderrig te versterk", sê Karien Brits, bestuurder: taal. Die ATKV bied ook talle ander projekte aan waarin kinders hulle in hulle moedertaal kan uitleef.

Sophia Kapp, die 'taaltannie' van VivA, wat veral Afrikaans aktief die digitale era indra, sê oor moedertaalonderrig: "Ons glo in Afrikaans se plek in hierdie land en in sy reikwydte en sy waarde as onderrigmedium, en die voorsprong wat moedertaalonderrig Afrikaanssprekers besorg. Daarom werk ons hard daaraan om hierdie onderrigtaal vir die nuwe geslag nog meer toeganklik te maak."

Ook Helpende Hand is met hulle Skoleondersteuningsentrum- (SOS-inisiatief) daarop gerig om Afrikaanse onderwys op alle fronte te versterk. Vakverenigings vir Wiskunde-, Afrikaans-, Rekeningkunde- en Grondslagfase-onderwysers bied professionele ondersteuning aan onderwysers.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se leuse vanjaar vir Internasionale Moedertaaldag is #Moedertaalonderwys is ons fokus en die organisasie het in die verband 'n Praktiese handleiding oor skoolbeheer in ses tale beskikbaar gestel. FEDSAS fokus ook vanjaar op veeltalige onderrig en veral gehalte-onderrig. "Met veeltalige onderrig bedoel ons dat kinders die reg het om te kan kies in watter taal hulle onderrig ontvang", aldus Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.

Moedertaalpakket om onderwysers en ouers toe te rus

Ons is veral opgewonde oor die gratis en kleurvolle plakkate op die afrikaans.com-webtuiste (klik Leerhulp en besoek die moedertaalonderrigblad) wat deur onderwysers en ouers afgelaai en gedruk kan word en wat enige klaskamer sal opvrolik. Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, FEDSAS, VivA en Helpende Hand, het hande geneem en ons nooi jou om hierdie hulpmiddels te benut.

Die moedertaalboekie wat op afrikaans.com se moedertaal-blad beskikbaar is, vervat al die inligting oor die belangrike keuse wat jy oor moedertaalonderrig moet maak en is ook gratis aflaaibaar. Jy kan dit druk en aanstuur vir enigeen wat met hierdie belangrike besluit worstel. Die tien belangrikste vrae en antwoorde, asook die wetenskaplike navorsing wat die voordeel van moedertaalonderrig onteenseglik toelig, word ook verskaf, sodat jy uiteindelik 'n ingeligte besluit kan neem.

Sê Ingrid Erlank, redakteur Afrikaans.com: "Om kinders die geleentheid te gee om in hulle moedertaal skool te gaan, is sekerlik die grootste geskenk wat 'n mens jou kind kan gee. Wanneer 'n mens in jou moedertaal geanker is, leer jy makliker en is dit moontlik om kennis in enige taal of enige vak toe te pas en word dit jou brug na kennis. Jou moedertaal stel jou in staat om enige ander taal te bemeester. Deur trots te wees op wie jy is ontwikkel jy ook respek en begrip vir ander. Wanneer jy droom, dink en skep in jou moedertaal presteer jy op enige vlak en in enige taal."

Ingedien deur: Ingrid Erlank / Afrikaans.com
Banier foto digitaal aangepas: Ama'Zone Media Solutions h/a Africa InTouch
Banier agtergrond URL

Moedertaalonderrig: Die bousteen van uitnemendheid

Kinders het hul moedertaal nodig om hul kognitiewe ontwikkeling te verseker.
Admin

Applications now open for Sasol's prestigious bursary programme for 2021

Sasol is inviting high-achieving, motivated learners to apply for their prestigious 2021 bursary.
Admin

How to handle the critical last weeks leading up to Matric finals

Seven strategies to ensure successful Matric results.
Admin

52 SA graduates will move to Japan on July 27 to work as English teachers

To apply, applicants should be South African citizens and have a bachelor's degree in any field.
Admin