Ope brief aan ouers van gay kinders

Posted in Blogs by Admin on 11 June, 2017 at 5:03 p.m.

...of sommer alle ouers, for that matter.

Ek is self ‘n ouer. Ek is ook iemand se gay kind. Ek is wel nie jou kind nie, maar ek glo ek kan dalk namens hom of haar met jou praat, want jou kind voel dieselfde pyn as wat ek voel.  

English version available on Han van Staal's Facebook profile.

As dogtertjie saam met my geliefde boeta.

Liewe ouer van ‘n gay kind, ek weet dit is nie maklik om te hoor nie, maar jy mag dalk deels die oorsaak wees van jou kind se pyn. 

Omdat ek self ‘n ouer is, weet ek jy wil die beste vir jou kind hê. Jy wil die lewe so maklik as moontlik vir hom of haar maak en alle struikelblokke uit jou kind se pad rol. Van kleins af beplan jy tot ‘n sekere mate jou kind se lewe om te verseker dat sy of haar lewe glad verloop en dat hulle omstandighede sal kan vermy waar hulle hul koppe stamp of moontlik struikel en val. Maar ongelukkig is die lewe ‘n monster van ‘n ander kleur, en val gaan ons almal tog wel op een of ander stadium. Dan, liewe ouer, is dit mos ons plig om jou kind op te help en sy hand te hou totdat hy weer sy voete vind en self trots regop kan loop. Tot op hierdie punt van my skrywe dink ek ons almal stem nog 100% saam, maar ek vermoed wat volg gaan dalk ‘n knee-jerk reaksie ontlok. Ek wil tog vra dat julle steeds met ‘n oop gemoed en hart sal verder lees.

As jy gelowig is, het jy ons groot gemaak om te glo dat God ons liefhet. Jy het ons vertel dat Jesus gesterf het om vergifnis te gee vir al ons sondes (of jy en ek “sonde” dieselfde definieer of nie). Een van die eerste liedjies wat ons van kleins af geleer het, was "Yes, Jesus loves me. For the Bible tells me so."

En jy het ons vertel dat ons plek in die Hemel gewaarborg is, solank ons dit net glo. Toe, iewers langs die pad, het ons besef dat ons lesbies of gay is. En op een of ander stadium het ons die moed bymekaar geskraap om jou te vertel, of jy het begin vermoed of dalk elders uitgevind. Hoe dit ookal sy, jy het skielik ‘n ommekeer gehad. En nou sê jy ons is 'n gruwel, en ons plek in die hel word gewaarborg. 

Liewe ouer, daar kan baie gesê word oor die interpretasie van die moderne Bybel, daar kan baie gesê word oor die menige vertalings en moontlike interpretasies wat verlore gegaan het, of verdraai is, met al hierdie vertalings. Ek is nie hier om daaroor te bespiegel nie, want elke ou lees die Bybel soos wat hy dit verstaan en goed dink en daaraan kan ek niks doen nie. Wat ek wel van die Bybel wil sê, is dat God alle sonde oor dieselfde kam skeer. Sonde is sonde. Hetsy jou kind voorhuwelikse seks het, of jou kind egbreuk pleeg, of jy of jou man in die strik van begeertes, wat volgens die Bybel verkeerd is, val. Of selfs jou buurman wat ‘n affair met die sekretaresse het, of wat ookal. Ons doen baie dinge verkeerd. Ons vriende en familie maak hulself daagliks skuldig aan sonde. Sê vir my liewe ouer, as jou heteroseksuele kind swanger raak buite die huwelik, veroordeel jy? Of ondersteun jy? Liewe pa veral, as jou rugbyheld-seun ‘n ramkat onder die meisies is en hulle deurdraf soos die alpha-male wat hy is, is jy trots of wys jy hom die deur? Toe jy ‘n jongman was, het jy neergesien op - of met ontsag gekyk na - die ouens wat meisies om hul pinkie kon draai?

Nog ‘n ding wat ek weet van die Bybel is dat die oordeel slegs God toekom. Dis nie ons plek om te sê wie verdoem word tot die hel nie. Jesus het saam met Fariseers en tollenaars en prostitute geëet. Jou God is een van liefde en vergifnis. Moet Christene nie strewe om soos Jesus te wees nie? 

In die gay-gemeenskap is daar mense van alle geloofsgroepe, mense wat met ‘n innerlike stryd worstel - nie net omdat die samelewing hulle nie aanvaar nie, maar omdat dít wat hulle gló nie klop met wie hulle in hul wese is nie. Die paadjie wat ‘n gay mens loop van sy vormingsjare af, is glad nie maklik nie. Liewe ouer, ek kan jou nou waarborg, of ‘n kind grootword in ‘n gelowige huis of in ‘n baie liberale omgewing, om uit te kom as gay is een van die moeilikste dinge waardeur enige persoon sal gaan. Die vrees vir verwerping deur almal waarvoor jy innig lief is, is hartverskeurend.  

Om te worstel met so ‘n integrale deel van wie en wat jy is en om aan die anderkant uit te kom met selfliefde en aanvaarding is ‘n baie emosionele en moeilike stryd. Meeste kinders gaan heeltemal alleen daardeur. Sommige kinders maak dit nie daar deur nie en kies om hul eie lewens te neem. Tienerwees is alreeds so ongelooflik moeilik, soms selfs traumaties. Kan jy jou indink hoeveel erger dit vir ‘n gay-tiener is?  

Jou kind voel sy/haar hele lewe al asof daar iets fout is met hulle. In al hulle verhoudings was die probleem sy/hy, hulle was die een wat gefix moes word. Die las van om heeltyd foutief te wees, raak uiteiendelik te swaar. Hulle wil nie en kan dit nie meer dra nie. Daar is niks fout met hulle nie, niemand is te blameer nie, hulle pas net nie in die gaatjie waarin die samelewing hulle probeer maak pas nie.

Liewe ouer, wil jou hart nie net uitmekaarskeur van seer as jy dink waar deur jou kind heeltemal op sy of haar eie worstel nie? Wil jy nie net met jou hele hart hierdie mens vashou en hom of haar verseker dat jy oneindig lief is vir hom/haar nie? Nimmereindigend en sonder oordeel. Ek weet as ouer dat ek wil hê my seuntjie moet weet ek is altyd daar vir hom, ek sal hom altyd optel as hy val. Ek sal hom dra as hy nie kan loop nie en ek sal hom nooit verwerp nie.

Dit is wat jou kind van jou wil hoor. Dit is wat jou kind nodig het. Of jy saamstem met wie hy/sy is, of jy die daad veroordeel en sukkel om te aanvaar dat jou kind gay is of nie, begin deur vir hom of haar te sê dat jy hulle lief het, dat jy hulle nie veroordeel nie en dat jy hulle nooit sal verwerp nie.  

Gay-wees is gay-wees, dit kan nie verander nie, dit is daar om te bly. Mense kan besluit om nie gay te lewe nie, maar hulle gaan ongelukkig nooit seksueel aangetrokke wees tot die teenoorgestelde geslag nie en hulle gaan nooit ‘n vervulde lewe kan lei nie. As jy dit nie aanvaar nie, verloor jy so baie van jou kind.  

Wat ‘n absolute tragedie as jy 20 jaar down the line sien niks het verander nie en jy het vir 20 jaar jouself vervreem van iemand wat net jou liefde wil hê en jou op hulle beurt lief wil hê. Ons tyd op aarde is getel, al is daar niks anders wat ons verseker weet nie, is dit die een ding waarvan ons absoluut seker kan wees. Laat elke oomblik tel met die mense vir wie jy lief is. Omhels mekaar, wees lief vir mekaar, deel in mekaar se vreugdes en hartseer. Aanvaar mekaar ongeag verskille, want ons tyd is min en ons begeer om liefgehê en aanvaar te word. Dit is wat jou seun of dogter wil hê.

Jy hoef nie te verstaan nie. Jy hoef nie goed te keur nie. Jy hoef nie goed te praat nie. Hou net jou kind vas, aanvaar hom of haar en wees oop vir die moontlikheid om vir die persoon lief te raak wat jou kind liefhet. Gee jou seun of dogter onvoorwaardelike liefde. As jy dit kan doen, liewe ouer, wil ek jou gelukwens, want wat vir jou voorlê is ‘n oop en liefdevolle verhouding met jou kind. ‘n Verhouding van vertroue dat hulle op jou kan reken en die wete dat hulle hul natuurlike lewe met jou sal deel.

Gesels met Han van Staal op Facebook

Kiekies uit my kinderdae

Content of this opinion piece does not reflect the official opinion of Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch.
Responsibility for the information and views expressed lies entirely with the author(s).

Die onvergeetlike herinnering

Die vuiste reën op my neer. “Vir jou gaan ek doodp@*s!"
Admin

Die duiwel het sy kans gesien en dit gegryp

Wasband betekenis: He WAS my husband. Therefore he is my wasband.
Admin

Ice pack oppie blou kol

Dit is in die geheue vasgebrand - of sal ek eerder sê ingeslaan.
Admin

Brief aan my jonger self

Daar is begeertes wat jy nie kan onderdruk nie - vrae wat niemand wil antwoord nie.
Admin