Ope brief aan Gretha Wiid

Posted in Blogs by Admin on 29 May, 2017 at 10:43 a.m.
Han van Staal Biografie: Ek is 'n 'wannabe' skrynwerker, boekbinder, webontwerper, avonturier en roller-derby entoesias met stukkende knieë en 'n oop glimlag. Ek het al allerlei dinge probeer, sommiges met sukses en vele daarsonder. Daar is egter 'n deurlopende tema in al my pogings - 'n liefde vir boeke - lees, bestudeer, restoureer, maak en soms ook skryf. Binne my is daar 'n morbiede fasinasie met dekonstruksie en goggas (soms tesame). My nagraadse kwalifikasie in Literêre en Kulturele teorieë het ek verwerf aan die Universiteit van Pretoria.

Gesels met Han van Staal op Facebook

Geagte Gretha

Ek wil net gou uit die staanspoor sê dat ek glo jou intensies is goed, maar ek smeek jou, lees asseblief wat ek skryf, want die boodskap lê my na aan die hart. 

Ek is kwaad vir jou Gretha, ek is kwaad want dit wil voorkom asof jou ego in die pad staan van groei en aanvaarding. Ek is kwaad want ek dink jy het iets verkeerd gedoen. Ons almal maak foute, maar die grootste fout wat mens kan maak, is om te weier om daaruit te leer en te groei.

My vriend, Sean, het verlede Donderdag selfmoord gepleeg. Sean was 'n ongelooflike talentvolle en liefdevolle man. Hy het altyd tyd gehad vir ander en kon mens laat smile deur net in 'n kamer in te loop. Daar is min mense met die warmte wat Sean gehad het. Die wêreld is 'n kouer plek sonder hom. 

Sean was in sy laat dertigs.
Sean was gay.

Ek het nog nooit in my lewe 'n selfmoord brief gelees nie. Ek weet nie of jy al ooit het nie?
Dit het my hart geskeur. Ek gaan ‘n gedeelte van Sean se laaste woorde vir jou aanhaal:

"Die aanrandings vir die feit dat ek te veel belangstelling getoon het in hoe klere  gemaak word...
'n Pa wat my blatant 'n moffie genoem het, en broers en susters wat dieselfde gedoen het.
Ek kan aanhou oor my eindelose trane.
Om sensitief te wees, het nie goed afgegaan nie.
Is dit werklik?
Hoeveel keer moet 'n mens val? En weer opstaan?
Afgedruk word, en weer regop sukkel?
Misbruik word en probeer om die bron van haat of boosheid te begryp?
En waarin verander hierdie dinge jou? 'n Baie sterker jy? Nie altyd nie."

En dan wil ek graag 'n sin uit jou boek aanhaal:

"Kinders begin dan al vroeg-vroeg om hierdie seuns moffies te noem - 'n ander woord vir 'n gay man."

Geagte Gretha, "moffie" is nie 'n ander woord vir 'n gay man nie. Die woord moffie hou soveel mag dat 'n byna veertig-jarige man die gebruik daarvan uit sy kindertyd pertinent herroep in sy laaste woorde. Die gebruik daarvan is deels wat hom gedryf het tot die punt waar hy gevoel het hy pas nie in hierdie wêreld nie. 

Ek wil jou graag die voordeel van die twyfel gee en glo dus dat jou intensies nie was om kinders te laat dink dis okay om woorde soos moffie te gebruik nie, maar ongelukkig is daardie stuk in jou boek nie duidelik nie, en daar kan maklik afgelei word dat die woord moffie fine is om gay mans te beskryf.

Die aanslag wat jy die afgelope paar weke kry is dalk verkeerdelik gerig op jou karakter. My probleem met jou boeke is dat jy roekeloos met woorde en idees werk wat baie, baie sensitiewe sake omskryf onder 'n baie, baie weerlose groep mense.

Daar is 'n hele paar frases in jou boek wat dui op 'n homofobiese uitkyk. Dit kan maklik gelees word as 'n definitiewe uitspraak oor die “abnormaliteit” van homoseksualisme. Mens moet baie versigtig trippel wanneer 'n mens tiener-seksualiteit aanspreek en ek dink nie jy is gekwalifiseerd nie. Jou ondervinding met tieners en met jou broer maak jou ongelukkig nie 'n gewalifiseerde spesialis nie. Dink asseblief baie mooi oor hoe jou boodskap gelees word en hoe dit kan bydrae tot 'n samelewing waar mense soos Sean voel dat hulle nie inpas nie. Ek smeek jou.

Ek is self homoseksueel.
Ek het op 38 eers uit die kas gekom.

Ek was my hele lewe bang vir die oordeel, bang ek word verwerp deur my geliefdes. Ek het my bes probeer om 'n "normale" heteroseksuele lewe te lei. Ek was getroud met 'n wonderlike man wat nou nog steeds my beste vriend is en vir wie ek oneindig lief is. My huwelik was een vol deernis en omgee en wedersydse respek, maar daar was iets missing wat ons nie kon regmaak nie. En glo my, ons het alles probeer, maar op die einde moes ek myself face, want as ek dit nie sou doen nie, sou ek en hy 'n lewe lei wat nie vol was nie en ek kon hom en myself nie langer vasgevang hou in 'n huwelik sonder passie nie.

Ek is nou in 'n verhouding met 'n vrou.
My verhouding is mooi, dis rein, dit maak my 'n beter mens, dit maak my 'n beter ma.
Ek is honderd persent myself en dit voel ongelooflik!
 
Hoe is dit verkeerd Gretha?
Ek is die beste weergawe van myself wat ek nog ooit was.
Die hartseer deel was die 20 jaar tussen 18 en 38. Dit is nie hartseer dat ek gay is nie, dis hartseer dat ek in 'n wêreld leef waar ek gevoel het dat ek nie myself mag wees nie.

Hoekom is ek gay? Die voorsienigheid alleen weet. Maar dat ek is, kan nie betwyfel word nie. Ek glo nie daar is so iets soos 'n gay geen nie. Maar ek glo wel dat ek so gebore is. Ek glo die ontwikkeling in die baarmoeder is 'n komplekse mengelmoes van netwerke en sinapses wat teen rekordspoed groei en ontwikkel en dat daardie ontwikkeling uniek is en dat dit bydra tot elke persoon se uniekheid. Daar is navorsing wat toon dat die homoseksuele brein se amygdala (die reptiel brein) meer in gemeen het met die van die heteroseksuele brein van die teenoorgestelde geslag as met die heteroseksuele brein van 'n persoon van dieselfde geslag.
Daar is geen navorsing wat bewys dat trauma 'n mens homoseksueel maak (of homoseksueel kan laat voel soos wat jy beweer nie).

Ek wil jou smeek, Gretha, om asseblief in jou skrywe aan kinders al die moontlikhede te noem sodat hulle met 'n oopkop kan dink oor hulle eie en ander se seksualiteit. 
As God my geskape het, het Hy my homoseksueel geskape net soos wat Hy baie diere in die diereryk homoseksueel geskape het. En ek is 'n normale, liefdevolle mens wat nooit ooit weer sal voel dat ek nie "reg" is nie.

Laastens, Gretha, wil ek graag jou Bybel vir jou voorhou as ‘n spieël.
Jy het 10 jaar gelede op die rantjie van bankrotskap gestaan. Jy en jou man het in ‘n kamer by jou ma gewoon. Nou, slegs 10 jaar later, besit jy ‘n wildsplaas en spog jy met jou gel-naels, salon-hare en ontwerpers-uitrustings.

Die Bybel maak melding van homoseksualiteit in drie skrifgedeeltes
Genesis 19, Levitikus 18:22 – 20:13 en Romeine 1:26-27.
Hoeveel keer word daar nie melding gemaak van Mamon en geld as die wortel van alle kwaad nie? Staan daar nie dat dit moeiliker is vir ‘n ryk man om deur die poorte van die hemel te gaan as wat dit is vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan nie?

Jy lyk vir my na ‘n redelike wel-af en vermoënde vrou, Gretha. Is jy nie bekommerd oor hoe moeilik dit vir jou gaan wees om in die hemel te kom nie? Dalk moet jy jou gebede en jou pogings eerder fokus op jou eie uiteindelike verlossing as die van gelukkige, liefdevolle gay mense.

Liefde en voorspoed vir jou toekoms. Ek hoop regtig dat jou boodskap aan tieners, en alle mense met wie jy in kontak kom, 'n boodskap sal wees van liefde en aanvaarding en die wete dat ons dalk nie alles weet nie en dat dit okay is. Live and let live, Gretha, en laat dit ook jou boodskap wees aan ander.

My lewenskeuses is my eie en niemand word benadeel daardeur nie en ek weier om dit te regverdig aan mense met 'n uitkyk wat nie stroop met my eie nie. Ek sal nie duld dat jou ongegronde opinies en skrywe inmeng met my lewe nie.

Groete,
Han van Staal

Content of this opinion piece does not reflect the official opinion of Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch.
Responsibility for the information and views expressed lies entirely with the author(s).

Die onvergeetlike herinnering

Die vuiste reën op my neer. “Vir jou gaan ek doodp@*s!"
Admin

Die duiwel het sy kans gesien en dit gegryp

Wasband betekenis: He WAS my husband. Therefore he is my wasband.
Admin

Ice pack oppie blou kol

Dit is in die geheue vasgebrand - of sal ek eerder sê ingeslaan.
Admin

Brief aan my jonger self

Daar is begeertes wat jy nie kan onderdruk nie - vrae wat niemand wil antwoord nie.
Admin