Daar is slegs een Juliette Whelpton – maak seker jy gebruik die geleentheid om haar en haar skatkis van stories te ervaar.

Uitsonderlike toer gee stem aan Helde met Hoewe

Posted in Entertainment by Anchen Coetzee on 23 February, 2017 at 6:54 p.m.

"Wherever man has left his footprints in the long ascent from barbarism to civilization,  we find the hoofprint of a horse beside it."
~ John Trotwood Moore
 

Neil Gaiman het gesê die een ding wat mens het, wat niemand anders het nie, is jyself. Jy alleen het jou stem, jou gedagtes, jou storie en jou visie. “Skryf en teken en bou en speel en dans en leef soos net jy kan.”

Min kry dit egter reg, maar die handjievol wat dit wel vermag, is die wat vreesloos mens is – soos dit veronderstel is om met almal te wees, want daarin lê die verskil tussen leef en waaragtig lééf.

Menig verhale is deur die jare reeds geskryf oor die Anglo-Boereoorlog. Meeste hiervan is opgedra aan verskeie leiers wat daardie tyd ‘n kern rol in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het.

Daar was egter ander helde ook. Helde sonder stemme wat ongelukkig onbesonge agterweë gelaat was vir heeltemal te lank - tot daar ‘n skrywer op die toneel verskyn het, een wat meer as ‘n eeu later die voortou geneem het om erkenning te gee aan hierdie stil rolspelers in die land se geskiedenis.

Haar naam is Juliette Whelpton en sy is die stem van hierdie “Helde met Hoewe”, die meer as 500 000 perde wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 -1902) gesterf het. Uit haar pen is reeds drie boeke in die Helde met Hoewe-reeks gebore en almal word uit die bek van die perde self vertel.  

Alhoewel die reeks gerig is op lesertjies tussen die ouderdomme van nege en veertien, put die volwasse leser ook geweldig genot daaruit, want die verhale is geskiedkundig korrek met insette wat verkry is vanaf afgetrede professors Pretorius en Grobler (Universiteit van Pretoria, Geskiedenis).

Die eerste boek in die reeks word vertel deur die perd Fleur, die Arabier van genl. Christiaan de Wet. In hierdie storie (beskikbaar in Afrikaans en Engels) word daar ook verwys na die Lipizzaners en spesifiek na dié in Kyalami. Daar word ook aan die lesers vertel van besoekplekke wat van toepassing is op die verhaal en ‘n gedeelte van die boek fokus op dresseer.

Die tweede boek, ook in Afrikaans en Engels beskikbaar, word vertel deur Bokkie, die Basoetomerrie van genl. Koos de la Rey.
De la Rey was ook alom bekend as die ‘Leeu van die Wes-Transvaal’.

Die titel van die derde boek, wat vanaf 24 Februarie vir die eerste keer aan die publiek beskikbaar sal wees, is Dapper, die Boerperd van genl. Louis Botha. Dieselfde aand nog sal daar ‘n boektekening wees by die jaarlikse Lipizzaner Barn Dance in Kyalami.

Juliette vertel meer oor haar landwye toer, ‘Opsoek na Helde met Hoewe’, wat op 4 Maart afskop.
Sy verduidelik: “Die doel is nie net om die boeke bekend te stel nie, maar ook om die gemeenskap uit te daag om hul stories te kom deel oor legendariese perde in die dorpe of in ons land se gekiedenis - perde wat geleef het en selfs perde wat vandag nog ‘n rol speel. Ek gaan perdryskole, skole, museums, ouetehuise en perdestoete besoek en kampvuur-storieaande hou. Dit gaan hier veral oor die verhouding tussen mens en dier,”
Sy het ook ‘n versoek gerig aan enigeen wat sou belangstel om gasheer vir ‘n kampvuuraand of ‘n dag te wees, om hul besonderhede aan haar te stuur by info@healinghooves.co.za

Juliette, wat vir jare lank al navorsing doen oor perde in ons geskiedenis, het die land reeds deurkruis en by bykans elke dorpie pragtige stories versamel van staatmakerperde wat geleef het of wat steeds ‘n helderol vertolk.

Die stories van hierdie dorpies gaan sy ook deel tydens die verskillende dae. Die lekkerte van die stories wat die publiek met Juliette deel is dat die room daarvan binnekort saamgevat sal word in boekvorm. Daar is dus n groot kans dat jou naam in die geskrewe woord verewig sal word vir die nageslag.

Die beplande roete tot op hede is as volg:
4 Maart - Val (Val Hotel - Boer-en-Britnaweek)
8 Maart - Nigel (privaat geleentheid by ouetehuis)
24 Maart - Kaapsehoop (privaat geleentheid)
25 Maart - Nelspruit (Bushveld Lodge)
26 Maart - Machadadorp
27 Maart - Middelburg (privaat geleentheid by laerskool)
31 Maart - Vanderbijlpark (Deo Volente Equestrian Centre)                              
6 - 9 April - Vrystaat: Senekal/ Bethlehem/ Petrus Steyn
10 - 16 April – Natal
Mei - Gauteng - Potchefstroom/ Pretoria.

Meer oor die skrywer:
Juliette, wat ‘n gesertifiseerde lid is van Eagala (Equine Assisted Growth and Learning Association), se lewe spreek van nimmereindigende passie. Sy is wat mens noem begeesterd en alles wat sy aanpak, doen sy met soveel oorgawe dat die term, mislukking, glad nie in haar woordeskat bestaan nie.

As gekwalifiseerde sielkundige wat spesialiseer in navorsingskonsultasie, perd-assisterende berading en natuurlike genesing, was dit die mees natuurlikste uitvloeisel om haar maatskappy, Healing Hooves te stig. Healing Hooves, wat al bogenoemde inkorporeer, bied uitreikprogramme aan gemeenskappe in nood asook programme aan individue en groepe.

As voormalige luitenant-kolonel in die SAPD, is Juliette gesout in die behandeling van traumaslagoffers, en haar liefde vir perde en die rol wat hulle deur die eeue vertolk het, is diep gesetel.

Juliette en Rubi. “My pa se 'jalopy' moes buite die motorhuis staan en Rubi het ingetrek. Ons dorpshuisie was reg oorkant Laerskool Burgershoop in Krugersdorp en Rubi het bedags op die skoolgronde gewei.”

“My twee dogters reken daar is iets fout met my. Hulle sê wanneer ek naby of tussen perde is verander ek heeltemal. Dit is so. Skielik vergeet ek van politiek, van onmin, van onsekerhede. Al wat ek voel en sien is harmonie, vloei en ritme, en gaan ek in 'n trans waar ek weer deel voel van die natuur en die kosmos,” vertel Juliette.

Geen wonder dan dat haar tesis handel oor perde, mense, geskiedenis en genesing nie.

Of jy ‘n storie het, een wil hoor of bloot hierdie charismatiese vrou wil ontmoet, jy is welkom by die verskillende plekke waar sy gaan aandoen tydens die toer. Dit is gratis, uniek en ontspanne geleenthede en jy sal vertrek met ‘n gallop in jou binneste.

Daar is slegs een Juliette Whelpton – maak seker jy gebruik die geleentheid om haar en haar skatkis van stories te ervaar.

"To understand the soul of a horse is the closest human beings can come to knowing perfection."
~ Author Unknown

Skakels om te volg:
In die nuus
Healing Hooves Facebook
Helde met Hoewe Facebook

Geskryf deur: Anchen Coetzee / Ama'Zone Media Solutions t/a Africa InTouch
Sub-redakteur: Lynette Brink

 

A modern hobby worthy of your attention: tabletop board gaming

The beauty of the hobby is that you do not need to be an experienced board gamer at all to be able to enter it.
Wahl Lessing

SPAR Kirkwood Wildsfees staan oor tot 2021

Die bestuur het besluit dat kunstenaars die deposito’s kan hou wat reeds aan hulle betaal is.
Admin

Wine Estates Confirmed For Wine On Water Festival

The WoW Festival is a charity event, with all proceeds going to the upliftment of the local community.
Admin

Tweede Nuwe Jaar - Cape Town Street Parade

Tweede Nuwe Jaar has been celebrated in the Cape for over 110 years.
Admin