Video: Bloedlyn van stilte - Kettings van kinderhandel en engele van hoop

Posted in News by Anchen Coetzee on 17 January, 2017 at 4:49 p.m.

* Skuilname is gebruik om die identiteit van die betrokke persone te beskerm.

Africa InTouch News het onlangs ‘n onderhoud gevoer met ‘n formidabele vrou wat elke dag ‘n verskil maak in die lewens van slagoffers van mensehandel, meerendeels dié waar die ouers oortreders is.  

Mensehandel, beter bekend onder die Engelse term, "human trafficking", is ‘n bedryf wat met rasseskrede aan die toeneem is en waarvan die marteling van ‘n slagoffer se liggaam en gees slegs verwoesting tot gevolg het. 

Die wêreld waarin die slagoffers verkeer is een van vernederende isolasie met die koppelaars en smokkelaars in beheer. Die slagoffers van mensehandel word dikwels geassosieer met die ontvoering van veral minderjariges, en in die meeste gevalle, is dit uitsluitlik vir seksuele misbruik.

Hierdie moderne vorm van slawerny word egter nie net deur ontvoering gekenmerk nie. Dikwels maak die "handelaars" beloftes van ‘n beter lewe aan haweloses of armmoediges. Soms word daar geadverteer vir modelle wat benodig word vir modelwerk en so trap jongmense wat nie bedag is of hul huiswerk doen nie, in hierdie strik. Slagoffers beland so in ‘n web van prostitusie en, heel dikwels, pornografie. 

Die maniere waarop slagoffers bekom word is te veel om op te noem, maar die wreedste van al die bogenoemde, bly steeds dit waardeur geen kind behoort te gaan nie – die een waar die ouers die handelaars is – heel dikwels vanaf kort na geboorte af reeds.

*Magda Kemp is ‘n kunsterapeut en die moeder van drie seuns, waarvan slegs die jongste haar biologiese kind is. Haar twee ouer kinders - twee broers - is aangeneem. Sy het die jongste van die twee, *Liam, eerste aangeneem toe hy drie maande oud was en sy boetie, *Benito, kort daarna op driejarige ouderdom. Hulle is vandag onderskeidelik ses en agt jaar oud. Beide is outisties, maar nie van hul geboorte af nie. In die geval van die Kemp-broers was outisme een van die gevolge van seksuele misbruik. 

“Hulle biologiese ma het elke dag met hulle op die straathoeke gestaan en hulle liggame verkoop en niemand, geen voetganger of motoris, het ooit ‘n oog geknip, ‘n vraag gevra of die foon opgetel en die owerhede laat weet nie,” sê Magda.
Magda vertel dat, toe sy in Oktober 2010, die drie-maand-oue Liam die dag huis toe geneem het, sy beentjies onderontwikkel was en dat daar nie ‘n plek was waar hulle nie pers was van die kneusplekke nie. Die doktersondersoek het bevind dat hy ernstige spinale beserings opgedoen het as gevolg van seksuele impak. 

“Op drie maande was Liam reeds uitverhuur, soms vir ‘n uur en soms vir ‘n dag,” sê Magda, en vervolg: “Die situasie is van so ‘n aard dat ek nie kan oordeel nie, want hierdie mense ken niks anders nie. Op straat gaan dit oor oorlewing en dit is die omgewing waarin die biologiese ma grootgeword het, en so ook die generasies voor haar. Ek het die biologiese ma by die hof ontmoet tydens die aannemingsproses en so ook van Benito te hore gekom.”  

Magda vertel dat die biologiese ma op 25 reeds vier kinders - die waarvan hulle weet - gebaar het. Elke kind was van geboorte af deel van die mensehandelsirkel. Die ma het intussen ‘n histerektomie ondergaan. Die dag na haar operasie het sy weggeloop uit die hospitaal en was dadelik weer terug op straat.

Na Liam se aanneming het Magda weekliks vir Benito gaan haal, wie toe reeds by ‘n plek van veiligheid was.  Vanaf Maart 2012 was hy ook permanent in die Kemps se sorg en teen Augustus was sy aanneming afgehandel. Benito was baie slegter daaraan toe as sy boetie, aangesien hy nie net maande nie, maar jare lank aan seksuele misbruik blootgestel is. 
“Nie net was hy outisties nie, maar feitlik katatonies. Sy ma het op die straathoeke met hom handel gedryf.” 

Vandag, na baie jare se behandeling en liefde, is beide die seuns ander mense, alhoewel Liam sy boetie ver vooruit is. Magda sê dat dit ‘n bitter moeilike pad was om te stap en dat hulle dit steeds dag vir dag vat. “Om so ‘n kind se vertroue te wen is ‘n opdraande stryd, maar, wanneer hulle jou uiteindelik begin vertrou en besef hoe liefde voel, is dit wanneer ware vordering begin plaasvind. Hulle gaan nooit die mense wees wat hulle sou gewees het indien hierdie dinge nie met hulle gebeur het nie, maar hulle is 100% mens in eie reg. Hulle is die liggies wat my lewe verander het."

Nogtans was dit einde niet. In 2016 het Magda te hore gekom van ‘n dogtertjie wat op daardie stadium in die hospitaal was.  
*Amber was 10 jaar oud. ‘n Sekuriteitswag het op haar afgekom in Hillbrow waar sy besig was om uit ‘n asblik te eet. Hy het haar by Johannesburg Algemene Hospitaal gaan aflaai waarna die polisie ingelig en offisiere van Hillbrow SAPD haar kom haal het. Volgens Magda is geen papierwerk voltooi nie. Amber is heeltemal katatonies en outisties. Magda sê die SAPD kon klaarblyklik geen huis van veiligheid vind om haar heen te stuur nie. 

“Vir drie dae en twee nagte was sy opgesluit in ‘n sel saam met mans waar die seksuele mishandeling, volgens my, ongetwyfeld voortgeduur het. Nadat ‘n polisievrou op haar afgekom het, is sy na ‘n ander hospitaal (naam word weerhou) geneem. Die personeel het later vertel dat Amber in so ‘n toestand was dat hul glad nie ‘n inwendige ondersoek kon uitvoer nie.”
Amber is na ‘n kindersaal geneem waar sy vir die volgende twee maande vasgeboei en onder verdowing gehou is. Dit is hier waar Rachel haar opgespoor het.

“Op daardie stadium het sy haar eie ontlasting geëet en op niks gereageer nie. Nie Maatskaplike Welsyn of hierdie hospitaal wou verantwoordelikheid vir haar neem nie aangesien sy deel was van ‘n mensehandel-ondersoek."
Uiteindelik het die Departement van Geestesgesondheid verantwoordelikheid geneem vir Amber. Sy is tans in ‘n tehuis wat spesialiseer in die behandeling van outisme.

Magda help daagliks outistiese kinders, slagoffers van mensehandel en dwelmverslaafdes deur middel van kunsterapie. Sy noem dit bloot kunsklasse aangesien dit onwettig is om die woord "terapie" daaraan te koppel, “want,” vertel sy, “solank ‘n saak van mensehandel aan die gang is, mag die slagoffer nie enige terapie, behalwe die wat deur die hof aangewys word, ontvang nie. Soms neem dit jare voor hierdie sake afgehandel word. Die een waaraan ek spesifiek dink sloer reeds vyf jaar.”

Sy glo die enigste manier om ‘n verskil te maak is om waaksaam te wees en te reageer as jy onraad vermoed. 
“Ons ry daagliks verby mense wat met plakkate by verkeersligte staan en hulp vra. Van hulle het dikwels jong kinders by hulle, selfs babas in stootkarretjies. Baie keer is dit waar kinderhandel plaasvind, onder die dekmantel van bedel. Wanneer jy ‘n dwelmverslaafde is wat jou volgende 'fix' soek, weet jy presies wie die handelaars is. Ander mense gaan dit nie noodwendig weet nie, maar jy gaan. Dieselfde met mensehandel.”

Sy werk nou saam met Abraham Kriel Kinderhuis en Oak Haven. Beide hierdie instansies gaan gebuk onder finansiële uitdagings, maar Oak Haven se voortbestaan is tans ernstig in die weegskaal. Dit is die enigste tehuis wat voorsiening maak vir kinders met ernstige behoeftes soos die wat uit ‘n agtergrond van mishandeling of mensehandel kom.

“Mensehandel het reeds dwelmhandel verbygesteek in terme van gewildheid en is vinnig besig om die handel in onwettige vuurwapens ook in te haal. Dwelms koop jy een keer en gebruik dit op voor jou volgende nuwe voorraad, dieselfde met vuurwapens. Die menslike liggaam egter, kan oor en oor gebruik word en solank die mens op straat en die owerhede nie bereid is om ‘n brug te bou om hierdie kinders te help nie, gaan dit by die dag toeneem – soos reeds die geval is. As jy iets sien – praat!” sê sy.

In die volgende aflewering oor hierdie onderwerp praat ons met ‘n vrou wat tans in die proses is om ‘n nie-winsgewende organisasie te stig wat dit ten doel het om bewusmaking te bevorder. Nie net sover dit mensehandel aanbetref nie, maar teen alle vorme van mishandeling.  

Sy kom self uit ‘n agtergrond van mishandeling en is passievol daaroor dat kinders van jongs af reeds ingelig moet word oor die gevare daar buite. Sy gaan ons meer vertel oor hierdie projek asook gesels oor "pop-up crèches", die halfweghuise waar daar na hierdie jong slagoffers omgesien word.

Geskryf deur: Anchen Coetzee / Africa InTouch News
Subredakteur: Lynette Brink

Image URL
 

Swartland Auctioneers' second auction of the year delights attendees

Visitors can explore Swartland Auctioneers' offerings six days a week, affording many opportunity for purchasing.
Anchen Coetzee

Polisie laat geen steen onaangeroer om vermiste Joshlin op te spoor nie

Joshlin Smith is Dinsdag deur haar ma as vermis aangemeld by die Saldanha-polisiestasie.
Anchen Coetzee

Water gets clean bill from municipality: Scientist side-eyes the high aluminum levels

Rivier Rekord sought insights from MM De Jager (MSc. Biological Sciences; PhD candidate) to delve into the issue.
Anchen Coetzee

32-Year-old foreign national in custody for mandrax possession

Ten clear plastic bags containing mandrax tablets were found during the vehicle inspection.
Anchen Coetzee